OUDTSHOORN NUUS - Die Wes-Kaapse regering is tevrede dat die opgraderingswerk aan die pad tussen Oudtshoorn en De Rust goed op dreef is en na wense vorder.
Volgens Byron la Hoe, kommunikasiebeampte van die Wes-Kaapse departement van vervoer en openbare werke, word die hele pad van ongeveer 33 km teen 'n koste van R213 miljoen opgradeer.
Die opgraderingswerk het in Januarie vanjaar begin en sal na verwagting vroeg in 2018 afgehandel word.
Die projek sluit die opgradering, herseëling sowel as die verbreding van brûe in.
"Omvattende rehabilitasie van die pad is noodsaaklik sowel as verbeterings aan die uitleg om verkeersvloei en padveiligheid te verbeter," sê La Hoe in 'n verklaring wat hierdie week uitgereik is.
Die opgradering van die pad skep ook korttermyn werksgeleenthede en vaardigheidsopleiding aan plaaslike inwoners. Volgens La Hoe word R29 miljoen aan teikenkontrakteurs betaal wat tot werksgeleenthede in die gebied lei. Die projek skep 60 000 werksdae vir mense van die groter Oudtshoorn-omgewing.
Motoriste word gemaan om versigtig en geduldig te wees wanneer hulle tussen Oudtshoorn en De Rust reis aangesien daar op verskillende plekke beheerde eenrigtingverkeer en vernouings in die pad voorkom.
Verskeie botsings het reeds voorgekom sedert werk aan die pad begin het. By een van die botsings drie weke gelede is een van die werkers, wat motoriste waarsku om spoed te verminder byna deur 'n motor wat die padtekens verontagsaam het, raakgery.
ARTIKEL & FOTO: LIEZL VAN NIEKERK, OUDTSHOORN COURANT JOURNALIS
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'