OUDTSHOORN NUUS - Altesaam 45 sakke rommel is verlede week tydens 'n skoonmaak-aksie langs die Grobbelaarsrivier op Oudtshoorn en die Kleinrivier op De Rust opgetel.
"Dit is skokkend hoeveel rommel nie in vullisblikke beland nie, maar sommer goedsmoeds langs die twee riviere neergegooi word," sê Susan Botha van Trapsuutjies, wat die skoonmaakaksie gekoördineer het.
Sowat 100 vrywilligers en werknemers van verskillende instansies en besighede in Oudtshoorn het verlede Woensdag die loop en oewer van die Grobbelaarsrivier tussen St. John- en Voortrekkerstraat skoongemaak. Verlede Vrydag het sowat 50 leerders van De Rust Primêr die Kleinrivier op De Rust skoongemaak.
"Die jaarlikse skoonmaak-aksie gaan mense nie oornag oortuig om nié rommel te strooi nie, maar dit maak mense bewus van die probleem wat besoedeling skep," sê Botha.
Leerders het só kommentaar gelewer:
"Ons moet hierdie water kan drink, en ek wil nie," het een gesê na aanleiding van die menslike ontlasting op die oewer.
"Al hierdie goed is op pad see toe: dink net hoe siek is die visse in die rivier en die see."
"'n Mens kan hierdie optelgoed herwin," het nog een gesê wat besluit het om net blikkies op te tel.
Al die rommel wat opgetel is, is aangeteken en gesorteer en in 'n verslag vervat wat gelewer is aan Plastics SA, wat die skoonmaak-aksie in Suid-Afrika koördineer.
Die inligting word uiteindelik in 'n internasionale verslag vervat wat vroeg in 2019 gepubliseer word.
Volgens Botha was daar 4 437 items in die 45 sakke. "Dis neergegooi deur mense wat nie bewus is van die uitwerking van besoedeling op die omgewing nie," sê sy.
"Met hierdie skoonmaak-aksie wil ons mense bewus maak van die invloed van hul onnadenkende aksies. Dit is nie net van plaaslike en nasionale belang om die omgewing met respek te behandel nie, maar ook van internasionale belang, want ons wil almal, ter wille van ons eie welstand, in 'n gesonde wêreld leef."
Vrywilligers en leerders van De Rust Primêr wat rommel langs die Kleinrivier opgetel het. INLAS: Leerders wat in groepe van drie elk gewerk het, moes elke item wat hulle optel op 'n vorm aanteken. Foto's: Tisha Steyn.
Kontak Marilize Beer by 065 801 4810 of marilizebeer@yahoo.ca of Susan Botha by 081 2484979 of sbotha0@gmail.com vir meer inligting oor Trapsuutjies se groen projekte. Elke groepie van drie leerders wat rommel opgetel het, moes elke item op 'n vorm aandui.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'