OUDTSHOORN NUUS - 'n Hele aantal motoriste wat die sperstreep by Chandelier Wildsplaas verontagsaam het, het verlede week oproepe ontvang om hulle mee te deel dat boetes van soveel as R2 500 opgelê kan word.
Die provinsiale verkeershoof in Oudtshoorn, Gerald Becker, het elke motoris wie se oortreding op kamera vasgevang is, verlede week persoonlik geskakel.
Die Oudtshoorn Courant het in reaksie op 'n rits botsings naby Chandelier, foto's geneem van motoriste wat die sperstreep verontagsaam en die foto's aan Becker gestuur.
"Van al die oortreders is daar slegs twee wat ek nie persoonlik kon kontak nie. Een van hulle is 'n buitelander wat in 'n gehuurde motor die oortreding begaan het.
"Die ander een was in 'n maatskappyvoertuig en die maatskappy het onderneem om die werknemer voor stok te kry," het Becker gesê.
Volgens hom het die meeste bestuurders wat hy gekontak het, erken dat hulle die oortreding begaan het, maar dit blyk dat van hulle onder die indruk was dat hulle nie vervolg kan word nie.
"Mense verkeer onder 'n wanindruk dat hulle slegs vervolg kan word as 'n wetstoepasser hulle betrap.
"Dit is nie so nie. Enige lid van die publiek kan vir ons inligting van oortredings verskaf.
"In hierdie geval het ek klinkklare bewyse dat die oortredings begaan is en op grond daarvan kan die mense beboet word."
Becker sê verder dat vervolgings selfs gemaak kan word as getuies van 'n oortreding bereid is om in 'n hof te getuig.
"Ons wil nie hê motoriste moet ry en foto's neem nie, maar soms kan 'n passasier dit doen. Dit is tyd dat motoriste besef dat ander padgebruikers hulle kan laat aankla.
"Ons mannekrag is beperk en daarom is inligting wat ons ontvang van groot hulp."
'n Paar motoriste wie se voertuie op kamera vasgevang is, het 'n verdere skok gekry toe Becker hulle in kennis stel dat hulle reeds vorige uitstaande boetes op rekord het.
"Ek het elke registrasienommer wat ek ontvang het nagegaan om die eienaar op te spoor en ook uitstaande kwessies aangeteken."
Becker het beklemtoon dat sperstrepe vir 'n rede op sekere plekke aangebring word en dat motoriste nie hulle eie oordeel moet gebruik en verbysteek omdat daar oënskynlik geen aankomende verkeer is nie.
"Die stuk pad by Chandelier is een voorbeeld van 'n sperstreep wat juis aangebring is omdat daar al soveel botsings plaasgevind het."
ARTIKEL: HANNES VISSER, OUDTSHOORN COURANT REDAKTEUR
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'