OUDTSHOORN NUUS - “Daai kind is nie verkrag nie,” so het Lucas le Roux (46) die week in die Oudtshoorn-streekhof getuig in die saak waarvan hy aangekla word, dat hy ‘n 12-jarige kind, met ‘n mes gedreig en verkrag het.
Le Roux ontken dat hy die kind verkrag het ten spyte van ‘n DNS-verslag wat hom met die verkragting verbind.
Ondersoekbeampte, ao. Michael de Kock, het getuig dat die DNS van die beskuldigde twee keer geneem is nadat hy deur die staatslaboratorium versoek is om ‘n “re-take” te doen.
Volgens Le Roux is die verslag foutief. Hy beweer dat hy die betrokke dag na die hoofpad tussen Oudtshoorn en De Rust gestap het om daar vir sy neef te gaan wag toe die kind hom agtervolg het.
Hy het daar met ‘n sekerheidsbeampte gesels wat ook vir ‘n geleentheid gewag het, en na sy vertrek teruggestap het huis toe. Hy het by ‘n taverne vir hom ‘n bier gaan koop en vir die kind gesê om huis toe te gaan.
Hy het later gehoor dat haar tante haar uitgetrek het en gesê het dat sy dit mos nie kon doen nie omdat sy nie ‘n dokter is nie. Volgens hom dra hy ook nooit ‘n mes by hom nie.
Die kind het getuig dat Le Roux, wat sy Oom Lucas noem, haar die betrokke dag op 13 Desember 2020 gevra het om saam met hom langs die De Rust-pad vir sy neef te gaan wag.
Hy het haar egter daar aan die arm die veld ingetrek, in ‘n sloot gegooi en verkrag. Sy het nie om hulp geroep nie omdat die beskuldigde haar met ‘n mes gedreig het en niemand hulle van die pad af kon sien nie. Volgens haar het Le Roux haar na die verkragting met ‘n baadjie wat daar in die sloot gelê het afgevee.
Hy het haar daarna ook gewaarsku dat indien sy enigiemand van hul geheim vertel, hy haar en haar familie sal doodmaak.
Staatsaanklaer, Brandon Smith, het vir Le Roux se skuldigbevinding gevra omdat sy weergawe nie moontlik waar kan wees nie. Hy kon nie verduidelik hoe sy DNS op die kind beland het nie.
Le Roux se regsverteenwoordiger sê egter dat die staat nie sy saak bewys het nie.
Die beskuldigde hou vol dat die DNS-verslag verkeerd is en sulke foute kan gebeur. Sy weergawe is dus redelik moontlik waar en behoort hy vrygespreek te word.
Die saak dien voor streeklanddros Sylvia Mandla en is vir betoë en uitspraak tot 13 September uitgestel.
Le Roux bly in aanhouding.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'