OUDTSHOORN NUUS - "Hy was 'n institusie van kennis waardeur die meeste van ons kon leer, 'n fontein waaruit ons ons dors kon les."
So het dr. James D Lekhuleni, waarnemende Wes-Kaapse streekhofpresident, Dinsdagoggend die ontslape streeklanddros Mark van Wyngaardt tydens 'n laaste hofsessie in E-hof, die hof waarin hy sy sake aangehoor het, beskryf het.
Van Wyngaardt (63) is op Woensdag 22 November aan 'n hartaanval oorlede.
Talle landdroste, advokate, prokureurs en staatsaanklaers van Oudtshoorn en George, tolke en personeellede van die departement van justisie het die E-hof volgepak om hul laaste eer aan 'n kollega te bewys.
"Ons is vanoggend hier om 'n lewe te vier. 'n Lewe goed gespandeer en goed geleef," het Lekhuleni in sy huldeblyk gesê.
Volgens Lekhuleni was Van Wyngaardt 'n nederige mens met respek vir een en almal.
"Hy het nie 'n boek geskryf nie, maar sy woorde spreek boekdele. Die regbank is een van die arms van die regering wat die vertroue van die gemeenskap geniet en dit is te danke aan die werk van mense soos ons ontslape kollega.
"Mark het getrou gebly aan sy professie ten spyte van talle uitdagings en tot die einde ook getrou aan die eed wat hy afgelê het.
"Hy het geleef vir menslikheid, 'n dienskneg tot diens van menslikheid.
"Hy het verstaan dat van diegene aan wie baie gegee is, ook baie verwag word.
"Hy het ook verstaan dat ons lewens nie in jare gemeet word nie, maar aan die lewens van die mense met wie jy in aanraking kom.
"Dit is 'n groot uitdaging en die beste huldeblyk wat ons aan ons kollega kan gee is om die goeie dinge wat hy ons geleer en gedemonstreer het, na te streef.
"Ons groet 'n man wat eties was, toegewy aan die roeping van sy professie."
Christo van der Bergh, 'n plaaslike prokureur, het Van Wyngaardt, by baie prokureurs en aanklaers bekend as Wynie, in sy huldeblyk beskryf as 'n seder wat geval het.
Annemarie van Wyngaardt, suster van die ontslape Mark van Wyngaardt, ontvang sy toga van Brenda Claassen, stenograaf wat vir baie jare saam met haar broer gewerk het. Foto: Garnett Wicomb
"Maar 'n seder sou my vriend homself nooit genoem het nie. Eerder 'n groen doringboom in die Klein-Karoo.
"Die ding is, Mark was solied en 'n klomp van ons was aanhangers van hom. Die wêreld is armer sonder Mark van Wyngaardt".
Volgens Van der Bergh was dit altyd 'n plesier om voor Van Wyngaardt te verskyn.
"Die E-hof was my gunsteling hof. Nie net was Mark 'n intelligente juris nie, maar ook uiters veelsydig en 'n baie bekwame en filosofiese kunstenaar in vele opsigte.
"Sy optrede teenoor my, die beamptes in die hof en my kliënte, sy insig, humorsin en die manier hoedat ek en hy in die hof kon skerts was altyd vir my 'n hoogtepunt."
Nog 'n plaaslike prokureur, Gideon Badenhorst, het Van Wyngaardt beskryf as 'n persoon wat almal se respek verdien het en nooit oor sy gesondheid gekla het nie.
"Wat hy gedoen het en hoe hy ander mense hanteer het sal my altyd bybly. En soos Jan F Cilliers in sy bekende gedig Generaal De Wet skryf, Stil broers daar gaan 'n man verby, bekyk hom goed."
Tommie Verreyne, streekhofbeheeraanklaer en huisvriend, het in sy kort huldeblyk Van Wyngaardt geloof vir sy skerpsinnigheid. "Ek sal sy klop aan my kantoordeur ook mis."
Volgens Michelle Weyers, senior streekhofsaanklaer, sal sy Van Wyngaardt onthou as 'n man wat vir een en almal respek gehad en respek afgedwing het.
Van Wyngaardt se enigste suster, Annemarie, het haar dank uitgespreek teenoor almal wat die geleentheid bygewoon en huldeblyke gelewer het.
Lees vorige artikels:
ARTIKEL: GARNETT WICOMB, OUDTSHOORN COURANT-KORRESPONDENT
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'