OUDTSHOORN NUUS - Chad Louw, jong politikus van Dysselsdorp, het verlede week landswyd opslae gemaak toe hy op 24-jarige ouderdom as die jongste burgemeester in die geskiedenis van Oudtshoorn ingehuldig is.
Louw vertel dat hy in 2017 by die ANC aangesluit het omdat hy deel van verandering wou wees.
“Ek het op ’n vroeë ouderdom reeds die politieke arena geïdentifiseer as die platform van waar ek verandering in my gemeenskap te weeg kan bring. Ja, sekerlik is daar ander platforms, maar in politiek het jy soveel meer hulpbronne tot jou beskikking om ‘n verskil in jou onmiddellike wêreld te maak. Die feit dat die burgemeesterskap my heel eerste amptelike politieke pos is, is bewys dat die Here hierdie groot verantwoordelikheid vir my bestem het. Die lewe is volgens my ‘n aflosresies en die tydsberekening was reg gewees om die fakkel aan die jonger generasie oor te gee sodat die jeug se stem ook uiteindelik gehoor kan word.”
Louw sê dat hy bewus is dat daar talle doemprofete is wat vanweë sy ouderdom bedenkinge oor sy aanstelling het.
“Myns insiens is daar duisende raadslede oor die land, oud en jonk, vir wie dit in elk geval ook ‘n eerste in die raadsaal is. Wat tel is dat jy as verkose leier die stem van jou gemeenskap binne die raadsaal moet wees om hulle mandaat uit te voer. Wat mense ook nie besef nie is die feit dat die ANC se nasionale koukus hierdie besluit deeglik oorweeg het voor hulle my as burgemeesterskandidaat voorgehou het - ‘n testament dat my party volle geloof in my het om brandende kwessies soos dienslewering, ekonomiese stimulering, landbou en toerisme en vele ander tekortkominge in ons gemeenskappe aan te spreek.
“In die politieke spektrum het die ANC my reeds al in die verlede op verpligte kursusse gestuur via die Oliver Tambo School of Leadership, met hoofmodules soos bestuur, ekonomiese ontwikkeling en die geskiedenis van Suid-Afrika se politieke landskap wat ek alles met onderskeiding geslaag het.
“Verlede jaar het ek ook die Young African Leaders se aanlynkursus gedoen wat weer handel oor die bemagtiging van vroue, menseregte, die bou van publieke sektore en die ontwikkeling van jeug en sport onder andere.
“Dit alles waarborg natuurlik nie sukses nie. Al wat op die einde van die dag saak maak, is dat ons as raadslede die publiek se mandaat, ‘A Better life for all,’ tot op die letter moet uitvoer,” het ‘n vasberade Louw gesê.
Benewens Louw se politieke loopbaan is hy tans ook die voorsitter van die Dysselsdorp en De Rust se gebiedskomitee, bestuurslid van die Dysselsdorp-krieketklub en ook voorsitter van die Dysselsdorpjeugontwikkelingsentrum.
As bekende gemeenskapswerker, wat nie skroom om letterlik sy hande vuil te maak nie, moes hy tydens sy eerste week as eerste burger Maandag reeds bystand aan verskeie woongebiede bied wat weens die onlangse swaar reën beskadig is.
As ywerige filmmaker is hy ook die draaiboekskrywer en regisseur van sy eie aanlyn-TV-reeks, Tweegesig, wat deur die departement van kuns en kultuur geborg was. Louw was ook al betrokke by die oorklanking van die gewilde sepies Elif, Vuurspel, Gebroke harte en Bittersoet sowel as produksieassistent van Kfm radiopersoonlikheid, Tracy Lange, se Tussen Ons.
Volgens Louw besef hy alte goed dat in onlangse jare daar heelwat negatiwiteit rondom die ANC se bestuursvermoë bestaan.
“Ek kan ongelukkig net vir my praat en wat onder my watch gebeur. Dit wat in die verlede gebeur het kan ek nie verantwoordelikheid voor aanvaar nie. Ek kan die publiek wel verseker dat enige vorm van korrupsie nie onder my termyn geduld sal word nie.
“Ons beweeg nou in ‘n nuwe era in, so maak vas u sitplekgordels - die naysayers mag dalk ‘n verrassing die volgende vyf jaar te wagte wees. Oordeel myself en die ANC dan eers,” het Louw optimisties verklaar.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'