Video
OPVOLG @ 15:00 - Na afloop van vanoggend se betoging deur 'n groep ontevredenes by die sirkel in Bongolethu, het die Oudtshoorn-munisipaliteit 'n rukkie gelede mobiele toilette vir inwoners laat aflewer. Volgens inligting wat aan die Oudtshoorn Courant verskaf is, sal watertenks môre afgelewer word. Lees meer in hierdie week se Oudtshoorn Courant.
OUDTSHOORN NUUS EN VIDEO - 'n Groep ontevredenes het vanoggend (Dinsdag 1 September) in Bongolethu by die sirkel (Wyk 4) vir dienslewering betoog.
Gedurende die protesaksie, het hulle die vier ingange van die sirkel met brandende buitebande afgesper.
Volgens Patrick Hendricks, koördineerder van die groep, beset hulle al ses maande die oop stuk grond oorkant die sirkel en eis hulle nou water en toiletgeriewe van die Oudtshoorn-munisipaliteit.
"Ons het reeds verskeie kere met ons wyksraadslid vergader om 'n vreedsame oplossing te probeer vind sonder enige aksie van die munisipaliteit," het hy gesê.
"Op die oomblik is ons 40 gesinne wat hier woon wat oumense, kinders en gestremdes insluit. Ons is nou gatvol."
Kyk 'n video hieronder.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'