Update
OUDTSHOORN NUUS - Die Oudtshoorn-gemeenskap is met baie vrae gelaat nadat 'n vullisverwyderingstrok - vermoedelik uit George - Woensdag (12 Julie) by die Oudtshoorn-stortingsterrein op pad na Dysselsdorp met 'n groot vrag vullis omgeslaan het.
Volgens inligting wat Oudtshoorn Courant op die toneel bekom het, is die bestuurder van die voertuig nie beseer nie, maar was hy onseker hoe die trok omgeslaan het.
Die man, wat vir 'n privaat maatskappy werk, was nie by magte om met die koerant te praat nie en 'n ander man wat vermoedelik sy kollega was, het Oudtshoorn Courant probeer verbied om foto's of 'n video van die toneel te neem.
'n Insleepvoertuig het later die trok regop gesleep en nooddienste en polisie was op die toneel.
Die Oudtshoorn-munisipaliteit se munisipale bestuurder, Walter Hendricks, het kort na die voorval bevestig dat daar 'n ooreenkoms met die George-munisipaliteit is dat laasgenoemde teen 'n tarief Oudtshoorn se stortingsterrein, bekend as die Grootkop-stortingsterrein, gebruik indien George kapasiteituitdagings ervaar.
Dit is volgens Hendricks omdat Oudtshoorn genoeg ruimte het.
Kort na 'n plasing op Oudtshoorn Courant se Facebook-blad het inwoners van die dorp talle vrae rondom die kwessie gehad.
Inwoners wil weet hoe lank die ooreenkoms tussen George en Oudtshoorn al bestaan en die geskiedenis daarvan, wie beheer wat op die stortingsterrein aangaan in verband met rommel wat daarheen gebring word en veiligheid, het dit 'n invloed op Oudtshoorn se verhoogde tariewe met betrekking tot vullis, watse tipe vullis van George word hier gestort en hoekom, en betaal die George-munisipaliteit vir die vullis wat hulle hier stort?
Op navraag het die Oudtshoorn-munisipaliteit eerstens gesê dat hulle die insident betreur en dankbaar is dat niemand ernstig is beseer nie. "Ons kontrakteur op die terrein en onderskeie nooddienste het die nodige bystand gebied en was behulpsaam teenoor die geaffekteerde maatskappy."
Die munisipaliteit het verder verduidelik dat die Grootkop-stortingsterrein 'n medium-grootte terrein is en gelisensieerd is vir grootmaat-vullis.
"Sedert Junie 2023 het die ander B-munisipaliteite probleme ondervind met die stort van vullis by hulle terreine, erge ongunstige weerstoestande het probleme vererger. Uit die aard van goeie werksverhoudings en regeringsooreenkomste verleen ons hulp gedurende hierdie periode. Ons kan bevestig dat hierdie 'n tydelike reëling is en het geen finansiële implikasies vir belastingbetalers nie. Ons raad sal finansieel baat by die reëling," lui hul terugvoer.
Die munisipaliteit het verder gesê dat hulle 'n geïntegreerde werksverhouding met belanghebbende groepe en regeringsfere handhaaf om te verseker dat daar voorsien word aan die behoeftes van die breë Oudtshoorn-gemeenskap.
Volgens hul terugvoer sal grootskaalse projekte verder volg waarby 'n gunstige omgewing geskep sal word vir informele herwinbare materiaalsorteerders om herwinning op die terrein op 'n higiëniese en veilige werkswyse aan te pak.
Die toneel by die Grootkop-stortingsterrein kort na die voorval met polisie en nooddienste op die toneel. Foto: Stefan Goosen
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’