OUDTSHOORN NUUS - 'n Handjie vol belangstellendes en enkele voornemende bieërs was verlede Vrydag by die veiling van Turnberry Boutique Hotel.
Met die aanvang van die veiling het slegs vier bieërs deelgeneem; twee in die lokaal en twee per telefoon.
Alhoewel daar nie 'n reserweprys was nie het die afslaer van AuctionOne met die aanvang 'n bod van R10 miljoen gevra. Hy het egter 'n openingsbot van slegs R2 miljoen gekry.
Op ongeveer R3 miljoen het twee van die bieërs onttrek en die bod is uiteindelik op R4,27 miljoen toegeslaan aan 'n persoon van Wildernis.
Dit beteken egter nie dat die bod deur die eienaars aanvaar sal word nie. Niel Els, mede-eienaar van die hotel, het Maandag gesê dit is voortydig om oor die aanbod te spekuleer. "Ons het sewe dae geleentheid om 'n besluit te neem en op hierdie stadium is onderhandelinge nog aan die gang."
Oudtshoorn Courant het voorverlede week berig dat Turnberry Boutique Hotel deur die inperking gedwing is om hulle deure te sluit.
Die hotel met sy 22 luukse kamers en kapasiteit vir 60 gaste, is hoofsaaklik afhanklik van buitelandse besoekers en het sedert Maart verlede jaar bykans geen besprekings gehad nie.
Els het gesê sy grootste kommer is die werknemers wat nou sonder 'n inkomste sit. Turnberry is een van Oudtshoorn se bakens wat internasionaal bekend is.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'