OUDTSHOORN NUUS - Om in 'n skoonheidskompetisie oorsee mee te ding, was nog altyd haar grootste droom en volgende jaar, gaan Bennette Landman aan Pageant America deelneem.
Landman is die afgelope naweek as die eerste naaswenner in die Mev. 30+-kategorie in die jaarlikse Tiener/Mej./Mev. en Mnr. Eden SA Skoonheidskompetisie wat by die Garden Route Casino se Bravo Lounge aangebied is, gekroon.
Daarmee saam is sy ook as Mev. Fotogenies gekroon.
Dit is slegs die wenners en naaswenners wat gekwalifiseer het om aan Pageant America deel te neem.
Landman is 'n gebore Oudtshoorniet en 'n bekende in skoonheidskringe. Sy is in 2020 as semifinalis vir Mev. Heelal Suid-Afrika gekies en het sedert haar kinderdae aan verskeie skoonheidskompetisies deelgeneem.
"Dit is iets wat ek baie lanklaas gedoen het en toe die geleentheid oor my pad kom het ek dit met beide hande aangegryp. Dit was vir my so lekker om weer op die loopplank te wees."
Oor Amerika toe gaan is sy ongelooflik opgewonde.
"Ek wou nog altyd internasionaal deelneem. Dit is vir my 'n massiewe voorreg om die geleentheid te kan hê. Mens weet nooit watter deure vir jou oopgemaak kan word nie. Ek wil ook net almal bedank wat gehelp het om die naweek se kompetisie moontlik te maak."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’