OUDTSHOORN NUUS - Die uitvoerende burgemeester van die Groter Oudtshoorn-munisipaliteit, Chad Louw, het onlangs dringende stappe geneem om aan brandende gemeenskapskwessies aandag te gee.
Dit is in sy 100-dae-plan wat spesifiek ontwerp is om langtermynverligting vir die inwoners van die Groter Oudtshoorn te bring.
Volgens Louw, wat sedert 4 November 2021 sy posisie as eerste burger ingeneem het, is die 100-dae-plan in goedertrou met die samewerking van die Oudtshoorn-munisipaliteit se administrasie en raad vir die gemeenskap, opgestel.
Die doelwitte van Louw se 100-dae-plan is as volg:
Infrastruktuur: Addisionele hupstoot van R27 miljoen in toelae. Die munisipaliteit is in die finale fase om 'n vennootskap met die departement van korrektiewe dienste te sluit waaruit werksgeleenthede sal spruit.
Oudtshoorn-munisipaliteit het ook 'n bykomende toelaag ontvang vir die uitgebreide openbare werke program (EPWP) (± R1,1 miljoen) en paaie en stormwater (±R26 miljoen). Hierdie finansiële inspuitings sal die fokus op die huidige diensleweringskwessies plaas en die paaie en stormwateruitdagings in die Groter Oudtshoorn aanspreek. Dit sal ook deel vorm van die burgemeester se Hou Oudtshoorn Skoon en Hou Oudtshoorn Veilig-veldtog.
Aan die begin van Februarie 2022 is 'n tender uitgestuur vir plaaslike kleinsakekontrakteurs om as bieërs aansoek te doen vir die verwydering en/of skoonmaak van onwettige storting op verskeie openbare oop ruimtes, stormwaterkanale en rivierbeddings. Louw het gesê sodra die behoorlike munisipale prosesse afgehandel is, sal daar begin word sodat Oudtshoorn kan terugkeer na sy eertydse glorie en die pragtige dorp kan wees wat dit veronderstel is om te wees.
Volgens Louw is die munisipaliteit se tegniese departement hard aan die werk om die paaie van Oudtshoorn te herstel en instandhouding te doen. "Sommige dele is reeds voltooi en Parkweg en Meulstraat sal binnekort herseël word. Die opvulling van Rus-, Aandblom en Boegoestraat, asook 1ste Laan is ook volgende aan die beurt."
Finansiële hupstoot van R47 miljoen om Blossoms-projek te begin
Die multimiljoenrand Blossoms-noodprojek wat in 2018 van stapel gestuur is om droogte en ernstige watertekorte in die Groter Oudtshoorn te verlig, word voortgesit ná gesprekvoering met die minister van water en sanitasie. Die munisipaliteit het amptelike goedkeuring ontvang vir die R47 150 000 vir die voltooiing van die Blossoms-projek.
"Ons beplanning is tans op koers en die bou van die volgende fase sal vroeg in Maart 2022 begin. Dit sal verseker dat ons water vanaf Blossoms na Oudtshoorn, Dysselsdorp en al die omliggende landelike gebiede voorsien," het Louw gesê.
Die lang verwagte Bridgton-winkelsentrum word uiteindelik voltooi. Die bouplanne van die Bridgton-winkelsentrum is in Januarie 2022 goedgekeur. Die belegger sal die konstruksiefase in Maart/April 2022 begin en ook werksgeleenthede skep vir plaaslike klein-, medium- en mikro-ondernemings (KMMO's) en werkers in die konstruksiebedryf.
Oudtshoorn is steeds die sportmekka en byeenkomsdorp in die Wes-Kaap en distrik
Die munisipaliteit het die volgende sportgeleenthede gefinansier en dit is verseker deel van die strategie om die dorp as 'n sportmekka van die Wes-Kaap te posisioneer. Daarbenewens fokus die munisipaliteit ook daarop om groot sportgeleenthede en konferensies binne die munisipale-area aan te bied.
- 'n Tweekamp (Februarie 2022)
- 'n SA Nasionale-jeugfietsrykampioenskappe (Maart 2022).
Oudtshoorn-munisipaliteit het ook in Desember 2021 'n memorandum van verstandhouding (MOU) met die departement van kultuursake en sport (DKES) onderteken oor die bevordering van sport en die benutting van die munisipale fasiliteit vir die sportakademie.
Die jaarlikse Sportfees is tans in die beplanningsfase vir Oudtshoorn om die Sportfees aan te bied. "Ons het uitdagings ervaar met die gehalte van ons sportinfrastruktuur spesifiek die swembad, en 'n span bestaande uit topbestuur en raadslede het met die rolspelers vergader om sake van kommer op te los. Dit sal hopelik die grondslag lê om ons verhouding met watersport te begin herbou en ons swembad te herposisioneer om galas en geleenthede aan te bied.
"Ons is ook opgewonde om aan te kondig dat KKNK weer vanjaar aangebied sal word en ons het ook verseker dat die SALGA Nasionale Kleindorpe-konferensie in Mei 2022 aangebied word," het Louw gesê.
Volgens Louw is daar nog 'n paar beplande projekte en programme waaraan hy werk aangesien nie al sy doelwitte binne 'n 100 dae in hul geheel verwesenlik kan word nie. Hy het ook beklemtoon dat dit die raadslede se grondwetlike verantwoordelikheid as munisipaliteit is om dienste aan ons mense te lewer.
"Ek is toegewyd daaraan om my pligte en funksies na te kom om werklike, konkrete en betekenisvolle stappe te neem om te verseker dat die kwessies in ons gemeenskappe aangepreek word om sodoende nuwe moontlikhede en geleenthede te verseker," het Louw benadruk.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'