OUDTSHOORN NUUS - Leerders van Oudtshoorn, wat onderskeidelik hokkie en trompoppies beoefen, het onlangs die dorp se vlag hoog laat wapper met hul uitmuntende vertonings in Amsterdam en Kroasië.
Hokkieleerders
Keandré Thysse (15) en JD Hendricks (16) verbonde aan Langenhoven Gimnasium, vertel dat hulle hokkietoer na Amsterdam 'n ervaring is wat hul altyd sal bybly.
Vir beide leerders, wat deel was van die o.16 Elsie Coetzer-uitnodigingspan, was dit ook die eerste keer in hul relatiewe kort sportloopbaan dat hulle oorsee meeding.
Die span het drie wedstryde gespeel waarvan hulle met die intrapslag die eerste wedstryd teen Laren-hokkieklub met twee doele teenoor een gewen het. In die tweede wedstryd twee dae later, het die span teen LOHC se o. 18-span deelgeneem en 8 - 0 verloor.
Volgens Thysse en Hendricks het hulle uit hierdie wedstryd ontsettend baie geleer omdat hul teenstanders ook die beste in hul streek is afgesien van die feit dat hulle meer ervare en ouer as hulle was.
In hulle laaste wedstryd het hulle LOHC se o. 16-span gepak wat hulle met drie doele teenoor een geklop het.
Dus, 'n baie suksesvolle hokkietoer in hul eie ouderdomsgroep.
Benewens die drie wedstryde het al die Elsie Coetzer-hokkiespanne teenwoordig, ook leersame hokkieklinieke bygewoon.
Hier sê Hendricks, wat 'n middeveldspeler is, het hy veral baat gevind by nuwe tegnieke van balverspreiding, hand- en oogkoördinasie asook hoe om die spel te ontleed self met denkbeeldige verdedigers tydens die oefeninge.
Thysse, wat diens gedoen het as doel-wagter, sê op sy beurt dat daar baie klem gelê is op posisionering, met ander woorde hoe om heeltyd saam met die bal te beweeg en ook oefeninge wat die spelers by die huis kan toepas om hulle voete vinniger te maak.
Wat Amsterdam se algemene leefkultuur betref sê Hendricks dat hy dadelik die indruk gekry het dat die land baie georganiseerd is in alles wat hulle doen - van die netheid van die strate met geen slaggate, sowel as geen beurtkrag en baie fietse oral net om ' n paar verskille te noem.
Volgens die twee stuks was daar ook oorgenoeg tyd om Amsterdam bietjie te verken veral in die middestad en het hulle ook een van die wêreld se grootste pretparke besoek wat 'n belewenis vir die twee tieners was.
Vir nou is albei spelers doodtevrede om hul beste in hokkie te gee en soos hul skoolloopbaan vorder, te monitor watter hoogtes hulle kan bereik en vandaar af 'n finale besluit neem of dit iets is wat hulle as beroepsport sal opneem.
Albei het hul ouers en afrigters bedank wat hierdie onvergeetlike ervaring vir hulle moontlik gemaak het.
Trompoppies
In 'n merkwaardige vertoning van talent en vasberadenheid, het Jeswinique Davids, Snakho Donsa, Isiphile Mtshutshwane, Somila Salman, Shawnna Campher en Chanein Hifke van die SWD 'n blywende merk gelaat by die onlangse MWF Wêreldkampioenskappe in Kroasië.
Hierdie trompoppies het nie net op die hoogste vlak deelgeneem nie, maar het ook gesogte Protea-kleure vir hul uitstaande prestasies verwerf.
In die Junior Mace Mini-formasie-kategorie het Donsa, Mtshutshwane en Salman as 'n span saamgekom en 'n algehele 2de plek behaal. Hierdie prestasie is 'n bewys van hul kollektiewe talent en die kwaliteit opleiding wat hulle ontvang het.
Dit was deurgaans duidelik dat die trompoppies hul stempel behoorlik afgedruk en gewys het dat hulle 'n krag is om mee rekening te hou op die internasionale verhoog. Hifke se uitstaande vertoning het haar die kapteinskap van die senior klassieke aflosstokkie besorg, terwyl Davids as die kaptein van die junior pom-groep aangewys is.
'n Trotse Ronald Presher van die SWD-majorettes sê dat die toekoms van majorettes in die streek belowend is met hierdie tipe wêreldklasprestasies en sien SWD gretig uit na die volgende hoofstuk in die reis van hierdie besondere atlete.
"Dit is SWD se wens dat hul toewyding en harde werk die volgende generasie aspirant-trompoppies in die distrik sal inspireer om in hul voetspore te volg," het Presher gesê.
JD Hendricks (links) en Keandré Thysse. Foto: Wyndham Ewerts
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’