OUDTSHOORN NUUS - Die nuutgestigte Oudtshoorn Belastingbetalers en Inwoners Vereniging (OBIV) het onlangs hul organisasie amptelik op die oop stuk grond langs die CP Nel-museum aan die publiek bekendgestel.
Volgens een van die lede, Arno Greyling, is hierdie beweging geskep om die belange van Oudtshoorn se belastingbetalers beskerm en ook om namens hulle te onderhandel.
In 'n sterk bewoorde verklaring van OBIV word daar vinger gewys na die "skokkende en onbillike verhoging" van munisipale tariewe wat glo die katalisator was vir protesaksie.
"Die besef was dat daar geen meganisme is om ons te beskerm teen sulke skokke nie. Ook werk die deelname-proses glad nie soos dit tans daarna uitsien nie en moet daar dus ’n nuwe manier gevind word om die stem van die gemeenskap te laat geld. Ons sal ons verbind tot dialoog met die munisipale bestuurder as deel van 'n breër plan tot deelname mits ons ooreenkom op absolute openbaring en deursigtigheid van hul kant af."
In dié verklaring maak OBIV dit ook duidelik dat oplossings vir Oudtshoorn se inwoners nie net in die hande van die munisipaliteit mag wees nie.
OBIV het almal bedank vir hul ondersteuning asook diegene wat by hierdie beweging aangesluit het.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'