OUDTSHOORN NUUS - Die vervalle bestuurstoetsbaan by Oudtshoorn se verkeersafdeling is opgegradeer en is Maandag amptelik geopen.
"Die toetsbaan voldoen aan alle vereistes vir 'n Graad A-status en is weer oop vir alle voertuie en motorfietse," het Patrick Jordaan, verkeershoof van Oudtshoorn, gesê.
"Ons vra die publiek om verskoning vir enige ongerief die afgelope tyd omdat daar geen toetse gedoen is nie, en wil u weereens verseker dat ons die gemeenskap wil dien tot die beste van ons vermoë."
Jordaan noem ook dat daar hard gewerk is om die toetsbaan weer oop te stel vir gebruik. Volgens Aurelia Oliphant, woordvoerder van die Oudtshoorn-munisipaliteit, het die stadsraad ongeveer R652 000 van hulle kapitaalbegroting gebruik om die projek te finansier.
"Wat eens 'n doring in die vlees was, is nou 'n baken van trots vir die inwoners van die Groter Oudtshoorn," het Colan Sylvester, uitvoerende burgemeester van Oudtshoorn gesê.
Charlton Majiedt van die Wes-Kaapse departement van vervoer en openbare werke het die munisipaliteit en amptenare bedank vir hulle aandeel om die toetsbaan weer op standaard te kry. "Dit is wonderlik om te sien dat iets waaraan ons so lank werk uiteindelik die lig sien."
Volgens Oliphant het die provinsiale regering die munisipaliteit ondersteun om te verhoed dat die toetsbaan, wat nie op standaard was nie, sou toemaak. "Die plaaslike, provinsiale en selfs nasionale regering was moniteerders deur die hele proses en het toegesien dat alles binne die wet gedoen word," lui haar verklaring.
Volgens haar was die toestand van die toetsbaan verlede jaar van so 'n aard dat dit op die punt was om na 'n Graad F-baan afgegradeer te word.
"Na die opknapping van die toetsbaan het die provinsiale departement van vervoer bevestig dat die verkeersafdeling sy vorige Graad A-status kan hervat."
Lara le Roux (18) was die eerste leerlingbestuurder wat op die nuwe toetsbaan getoets is en haar rybewys ontvang het.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'