OUDTSHOORN NUUS - Group Editors het verlede week die gesoute joernalis, Liezl van Niekerk, as nuwe redakteur van Oudtshoorn Courant en Graaff-Reinet Advertiser aangestel.
Van Niekerk (33), wat oorspronklik van Robertson is, se aanstelling volg nadat Hugo Redelinghuys, wat drie maande gelede in dié pos aangestel is, na die span by Suid-Kaap Forum geskuif het.
Oor haar nuwe pos sê Van Niekerk dat sy baie geëerd voel om aan die stuur van 'n koerant met soveel geskiedenis te wees.
Sy het in 2008 by die Universiteit van Potchefstroom haar graad in BA Kommunikasie, en daarna 'n honneursgraad in joernalistiek verwerf.
Sy het haar internskap, as deel van haar honneursjaar, by die Oos-Kaap Burger voltooi.
In 2012 is sy Oudtshoorn toe waar sy by Die Hoorn aangestel is. Na bietjie meer as 'n jaar en half het sy 'n pos by Oudtshoorn Courant aanvaar.
Op 'n vraag waarom sy destyds besluit het om 'n joernalis te word, vertel sy dat sy nooit geweet het wat sy na skool wou doen nie, maar dat skryf altyd vir haar lekker was.
"Na my graad het ek besluit om joernalistiek a go te gee en te kyk wat gebeur - en toe love ek dit. Ek lief die mense en die stories en dat mens soveel van ander kan leer. Jy deel in ander se lief en leed. Jy gesels met hulle op hul beste en deur hul slegste. Dis 'n heerlike beroep. In my af tyd, wat nooit is nie, is ek mal oor hekel, diere, lees en foto's neem," skerts sy.
Wat haar algemene filosofie oor joernalistiek betref sê Van Niekerk dat sy glo in eerlike, feitgebaseerde joernalistiek wat 'n gesonde verhouding met die gemeenskap insluit. Van Niekerk is twee jaar gelede in die eg verbind en het boonop huis gekoop, so sy is behoorlik in die gemeenskap ingewortel.
Lesers kan Van Niekerk by 084 825 0432 kontak of e-pos by liezl@groupeditors.co.za.
Vorige Artikel: Nuwe redakteur vir Oudtshoorn Courant en Graaff-Reinet Advertiser
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein karoo nuus'