OUDTSHOORN NUUS - Danksy besorgde onderwysers van Eljada Kaïros Skool, die Oudtshoorn-munisipaliteit en die goedhartigheid van Langenhoven Gimnasium se verenigde raad van leerders (VRL) slaap 'n gesin van Suikerbult, naby PSP, die winter in beter omstandighede.
Volgens Annelize Schutte, 'n onderwyser vir Eljada Kaïros Skool, het onderwysers besoek afgelê na leerders se wonings en op die woning in Suikerbult afgekom.
"Dit was letterlik 'n laphuisie. Lappe wat oor pale gedrapeer was. Die leerder woon saam met sy ma, pa en boetie in die huis. Die onderwysers het met die skoolhoof, Hennie Baartman, oor die situasie gepraat en hy het die munisipaliteit gekontak. Die munisipaliteit het op hulle beurt materiaal beskikbaar gestel en 'n opslaanhut is gebou," vertel sy.
Volgens haar was dit nie die einde van die seëninge vir die gesin nie.
"Franke du Plooy, Gimmies se hoofdogter, het ook by die projek betrokke geraak. Sy het 'n projek, Anything for but Schoolshoes for Shacks begin. Leerders van Gimmies kon vir 'n dag met enigiets behalwe skoolskoene skool toe gaan en die geld wat hierdeur ingesamel is, is gebruik om meubels vir die opslaanhut te laat maak."
Schutte sê hulle kon 'n stapelbed, bestaande uit 'n enkel- en dubbelbed, 'n laaikassie en kombuiskassies laat maak het. Die koshuis het ook matrasse vir die beddens geskenk.
"Die meubels is deur Gerry Jooste gemaak wat tydens die inperking meubels as 'n ekstra inkomste gemaak het."
Volgens Schutte is die meubels onlangs aan die gesin oorhandig.Die laphuisie waarin die gesin gewoon het.
Jonathan en Elsie Ayford by die meubels.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'