Update
DYSSELSDORP NUUS - Dysselsdorp se behuisingsnood word tans aangespreek. Dit is die versekering wat Shehaam Sims, Oudtshoorn se direkteur van menslike nedersettings, die week in 'n verklaring gegee het. Dit was in reaksie op 'n navraag oor behuising wat die Oudtshoorn Courant gestuur het na Leon Campher, voorsitter van die Dysselsdorp Advieskantoor, Maandag met 'n groep Dysselsdorpers vergader het om behuisingskwessies in die dorp aan te spreek.
Volgens hom is daar 26 jaar laas huise in Dysselsdorp gebou en moet mense in tydelike strukture woon terwyl daar op ander dorpe soos Oudtshoorn en De Rust gereeld nuwe huise vir inwoners gebou word.
"Die munisipaliteit kan ten minste sorg dat die mense in shacks ordentlik woon terwyl hulle wag vir huise om gebou te word. Die strate kan geteer word en sypaadjies kan reggemaak word."
Volgens Campher is dié probleem by die munisipaliteit sowel as die openbare beskermer se kantoor aangemeld.
Sims het Dinsdag egter gesê daar is meer as 2 000 inwoners van Dysselsdorp wat sedert 1990 op 'n waglys is en dat dit bou van huise die afgelope twee jaar deel van behuisingsbeplanning is. "Die provinsiale regering het solank R965 660 beskikbaar gestel vir die beplanningsfase van 522 nuwe huise." Volgens haar word daar slegs op goedkeuring vir grond van die beplanningstribunaal gewag. "Daar is R5 miljoen aan die munisipaliteit gegee om bestaande infrastruktuur aan die beplande infrastruktuur te koppel," het sy bygevoeg. Sims sê sy hoop dat die goedkeuring van die projek teen 28 Mei afgehandel sal wees.
"Wanneer die goedkeuring voltooi is kan dit na die provinsiale regering gestuur word sodat finansiering vir die ondergrondse dienste, soos water en sanitasie, bekom kan word."
Lees 'n vorige artikel: 26 jaar laas huise in Dysselsdorp gebou
'Ons bring jou die nuutste Dysselsdorp, Klein Karoo nuus'