LADISMITH NUUS - Vrywilligers van SA Water warriors het Saterdag 2 000 vyf-liter-houers met gebottelde water in Ladismith afgelewer.
Deon Smit, die stigter van Water Warriors, het ‘n konvooi van 12 voertuie met sleepwaentjies uit die Kaap gelei.
Drie voertuie met sleepwaentjies uit George het ook by hulle aangesluit. Hulle het ook ‘n waterskenking in Oudtshoorn opgelaai. Daar was beplan om die hele skenking van 10 000 liter water by Parmalat in Ladismith af te laai waar inwoners dit kon afhaal.
Met die vrywilligers se aankoms het hulle egter besef dat arbeiders op plase nie self die water sou kon haal nie en ‘n aantal voertuie het vir die volgende twee ure na plase toe gery en water aan ongeveer 30 huishoudings geskenk.
Volgens Pieter du Plessis van Water Warriors in George, is hulle tans besig met ‘n reuseveldtog om water, kruideniersware en ander lewensmiddele vir ‘n gemeenskap in die Noord-Kaap in te samel. Hulle beplan om die skenkings, wat op ‘n soortgelyke skaal sal wees as wat verlede maand in Prins Albert afgelaai is, op 8 Februarie na Kenhardt te neem.
Mense wat wil betrokke raak of enige skenkings wil maak kan Pieter du Plessis by 076 844 6435 skakel. Alle projekte is ook op die Facebookblad van South African Water Warriors.
Water is aan ongeveer 30 huishoudings geskenk.
Vrywilligers lewer water aan die gemeenskap.
SA Water warriors het 2 000 vyf-liter-houers met gebottelde water in Ladismith afgelewer.
‘n Konvooi voertuie met sleepwaentjies het die water afgelewer.
'Ons bring jou die nuutste Ladismith, Klein Karoo nuus'