OUDTSHOORN NUUS - 'n Boer in die Rooiheuwel-omgewing, Ebon le Roux, se volstruise het vir die tweede agtereenvolgende week onder verestropers deurgeloop.
Volgens Le Roux het sy buurman, Peet Henn, ook skade gely.
Oudtshoorn Courant het verlede week berig oor boere en kleinboere in die Rooiheuwel-omgewing wat gebuk gaan onder veediefstal, heinings wat gesteel word en volstruise wat se vere gepluk word en sommer doodgeslaan word.
Vyf van Le Roux se volstruise is voorverlede week gepluk en een is dood geslaan.
Verlede Donderdag is weer van Le Roux en Henn se volstruise gepluk en geslaan en Maandagaand was daar weer 'n voorval.
"Ons het in die laaste week 13 volstruise gehad wat gepluk en geslaan is en vyf van hulle is dood. "Ek dink nie mense besef die finansiële implikasies van so iets nie. Die boere is op hul knieë gedwing deur die droogte, toe gebeur Covid-19 en nou moet ons R1 400 'n nag aan 'n sekerheidswag betaal om ons volstruise op te pas."
Sers. Gretchen Micheals, woordvoerder van die Oudtshoorn-polisie, sê 'n klag in verband met verlede Donderdag se voorval word ondersoek.
"Na bewering het die klaer die volstruiskampe gaan besoek om kos te gee, en gesien dat drie volstruise se vere gepluk is. Een van die volstruise se bene was gebreek. 'n Klag van veediefstal word ondersoek."
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'