OUDTSHOORN NUUS - Boere in die Rooiheuwel-omgewing word nie net finansieel deur die voortslepende droogte geteister nie, maar hulle moet ook duisende rande spandeer om hul plase en vee te beveilig omdat hulle onder diefstal deurloop.
Vyf van Ebon le Roux, 'n boer in die Proefplaas-omgewing, se volstruise het Maandagaand onder vereplukkers deurgeloop. Een van hulle is doodgeslaan. Volgens Le Roux is dit 'n algemene verskynsel.
"Dit is nie meer vreemd dat die volstruise gepluk word nie. Hulle word die laaste tyd ook sommer doodgeslaan. Wat baie hartseer is, is die feit dat ons salarisse reeds 50% gehalveer is weens Covid-19.
Nou verloor ons 'n volstruiswyfie van R7 000 wat ongeveer 30 kuikens lewer en ons kon die kuikens vir R300 een verkoop. Dit is net vir die broeivolstruise. 'n Slagvolstruis beloop R4 000."
Volgens hom word klagtes by die polisie aangemeld, maar nie altyd nie omdat suksesvolle arrestasies min is.
"Die polisie neem altyd die klagtes en soms is daar vervolgings, maar die probleem met die regstelsel is dat hulle nie lank sit nie en soms nog voor 'n verhoor begin, buite is, en baie van die boewe pleeg weer dieselfde misdrywe terwyl hulle buite is."
Volgens George Schneigansz, 'n boer wat ook in die Rooiheuwel-omgewing boer, het hy vanjaar reeds meer as 35 klagtes gelê oor drade wat op sy plaas gesteel word.
"Ons fight eintlik 'n losing battle. Ons boere spandeer duisende rande aan sekerheidsmaatreëls om simpel goed soos heinings en hekke te beveilig en dit kon dalk gebruik word om nog 'n persoon in diens te neem of om nog voer vir vee te koop. Ons moet water na krippe toe aanry omdat rekeninge vir vlotterkleppe (ball valves) wat ook gesteel word te hoog raak," sê hy.
Volgens hom word die plaaswerkers se heinings rondom hulle huise ook gesteel. Hy sê verder ook dat daar nie 'n verband is tussen heinings wat afgesteel word en vere wat gesteel word nie.
"Daar is nie 'n mark vir heinings nie. Dit word gesteel vir persoonlike gebruik. Daar is egter 'n mark vir vere. Dus kan ons nie sê dieselfde booswigte wat vere steel, steel heinings ook af nie."
Hy sê ook dat dit sal help as die polisie meer patrollies kan ry.
"Ons verstaan dat hulle beperkte voertuie het, maar dit sal help as hulle meer sigbaar is sodat die naburige woonbuurte dit ook duidelik kan sien. Ons het al slote gegrawe om te probeer keer dat mense maklik naby die heinings kom maar dit help net 'n rukkie."
Volgens Schneigansz sukkel die kleinboere op die Rooiheuwel-pad ewe veel met diefstal van vee en heinings.
Albert Nokole, een van die kleinboere, sê hulle varke en heinings word gereeld gesteel.
"Ons kleinboere loop net so deur. Elke nou en dan steel mense ons varke. Ons het selfs al 'n sopkombuis begin om mense wat daar naby woon kos te gee sodat hulle kan help om booswigte te identifiseer. Verder kry ons ook hulp van Agri en die polisie."
Laubcher Coetzee, bekende Volmoed-boer, en lid van Agri Wes-Kaap, sê dit is 'n probleem wat ongeveer die laaste vier of vyf jaar kop uit gesteek het, maar dit het ook die laaste ruk effe afgeneem.
"Die vereprys het gedaal weens Covid-19 so daar is minder diefstal, maar almal kry swaar en daar is steeds mense wat probeer om 'n inkomste te verdien. Wanneer dit pluktyd raak stel sommige boere sekerheidswagte aan om die volstruise op te pas. Ander boere het alarmstelsels aan hekke en drade en geëlektrifiseerde heinings op en ander het weer kamerastelsels op plase aangebring. Agri het ook finansieel bygedra om van die kameras wat in die dorp is aan te bring en te same met die sakekamer en AfriForum gaan ons nog drie aanbring. Dit misdaad in die landelike dele bly egter 'n uitdaging omdat so baie geld in beveiliging ingaan wat eerder in boerdery in gegaan het."
Coetzee sê in sommige areas is plaaswagte reeds geskep en is boere in die Rooiheuwel-omgewing ook besig om saam met AfriForum 'n buurtwag te skep.
"Dit is ongelukkig so dat die polisie nie die kapasiteit het om oral te wees nie en daarom is buurtwagte baie belangrik om te help om misdaad te bekamp."
'n Volstruis op Ebon le Roux se plaas wat doodgeslaan is en sy vere gepluk is. Foto's verskaf
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'