OUDTSHOORN NUUS - Die De Rust-pad was gister vir bykans twee ure gesluit nadat 'n seuntjie, ten aanskoue van maats, deur 'n vragmotor doodgery is.
Die vragmotor was om ongeveer 12:15 vanaf Oudtshoorn in die rigting van De Rust onderweg toe die ongeluk sowat 3 km buite Oudtshoorn naby die stortingsterrein plaasgevind het.
Volgens nooddienswerkers op die toneel is die vier jarige seun op opslag dood. Die Oudtshoorn Courant het op die toneel met getraumatiseerde familielede gepraat wat bevestig het dat die seuntjie die 4-jarige Caywon Snyders was.
Sy ma, Kaylen, het kort na die ongeluk op die toneel aangekom en is deur omstanders ondersteun.
Sy woon in Rosebank wat naby die toneel geleë is. Dit blyk dat Caywon deel van 'n groepie kinders was wat die pad oorgesteek het.
Volgens 'n beampte wat met die vragmotorbestuurder gesels het, het die seun langs die pad op die grondstrook gestaan en oor die pad begin hardloop toe die vragmotor byna by hom was.
Die kinders wat saam met Caywon was het weggehardloop en later een-een na die toneel teruggekeer.
Ongeduldige motoriste en selfs groot vragmotors het met 'n smal paadjie kortpad deur die veld langs gekies, maar sommige moes weer omdraai omdat hulle voertuie nie teen 'n steil wal langs die hoofpad kon uitkom nie.
Hierdie is die tweede voorval in vier maande waar 'n kind op die hoofpad deur 'n voertuig getref is. 'n Meisie is in September naby die steenwerke ook deur 'n vragmotor getref en ernstig beseer.
Sy was ook deel van 'n groep kinders wat die pad tussen die veld en die woonbuurt oorgesteek het.
Familielede troos Kaylen Snyders, in die pienk hemp, op die ongelukstoneel. Die vragmotor wat Caywon getref het staan op die agtergrond. Foto's: Hannes Visser
Lees 'n vorige artikel: 4-Jarige kind doodgery
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'