OUDTSHOORN NUUS - Die Oudtshoorn-besigheidskamer het verlede Donderdagaand hulle netwerkaand by Langenhoven Gimnasium aangebied.
Die borge was Dawie Durant (De Rustica Estates) en Herman le Roux (Oranjerivier-wynkelders).
Die voorsitter van die Oudtshoorn-besigheidskamer, Abri Ferreira, het ook vir Leon Campher, onderburgemeester van Oudtshoorn by die geleentheid verwelkom.
Ferreira het vir 'n oomblik van stilte gevra na die dood van twee formidabele lede wat 'n rykdom van kennis gehad het, Bennie de Wet en Melcus Nel wat albei voormalige voorsitters van die Oudtshoorn-besigheidskamer was.
"Hulle was staatmakers wat diep spore getrap het en die ervaring wat hulle gehad het is moeilik bekombaar, ons het baie kundigheid verloor met hulle afsterwe."
Ferreira het opgewonde vertel dat die kommunikasiekanale met die munisipaliteit oop is en dat daar geld bewillig is vir die NA Smit- en Bongolethu-swembad se herstel, asook die tartanbaan by die De Jager-sportkompleks se opgradering.
"Dit is vir ons baie belangrik op hierdie stadium dat ons nie sportgeleenthede verloor deurdat dit in ander dorpe aangebied word nie, maar dat ons mense hiernatoe kan lok.
Ons het die infrastruktuur en ons is hard aan die werk met verskeie rolspelers om seker te maak dat ons die beste kan doen wat ons kan, om dit wat ons verloor het, terug te bring en dit wat ons nie verloor het nie, hier te hou om die kwaliteit hoër te stel."
Ferreira het gesê dat die onder-burgemeester, Leon Campher, agter Oudtshoorn-besigheidskamer staan en hulle sal ondersteun.
Drie nuwe lede het tydens die netwerkaand hulle sertifikate van die Oudtshoorn-besigheidskamer ontvang:
- Dawie Durant - De Rustica Estates
- Ingrid Noble - Just Property Oudtshoorn
- Henry Calitz - Vryburgers.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'