Update
OUDTSHOORN NUUS - Sou dit nie in die afsienbare tyd reën nie beskik Oudtshoorn oor genoeg water vir die volgende nege maande as inwoners hulle huidige samewerking met besparing voortsit. Hierdie aankondiging is verlede Woensdag tydens 'n waterberaad deur Chris Koch, Oudtshoorn se direkteur van tegniese dienste, gemaak.
Die waterberaad is deur die Oudtshoorn-munisipaliteit in samewerking met die Wes-Kaapse regering aangebied. Koch het inwoners geloof vir die wyse waarop hulle in die huidige waterkrisis water bespaar. Hy het ook diegene geloof wat die inisiatief geneem het om rioolwater vir tuine teen 'n tarief aan inwoners te verskaf.
Volgens die burgemeester, Colan Sylvester, is die Raubenheimerdam tans 50,22% vol en die Melvilledam 100%. Die water in die twee damme is gelykstaande aan 55,2% van die kapasiteit van die Raubenheimerdam na 16 mm reënval die afgelope week. Volgens Sylvester is Oudtshoorn se watertariewe tans van die laagstes in die Wes-Kaap.
"Die wagwoord moet egter steeds wees bespaar, bespaar en bespaar," het hy gesê.
Die watergesprek is bygewoon deur munisipale raadslede en senior amptenare, verteenwoordigers van Green Cape, die Wes-Kaapse departement ekonomiese ontwikkeling en toerisme, sowel as verteenwoordigers van landbou, die toerismebedryf, die Oudtshoorn-besigheidskamer en die Klein-Karoo-sakekamer.
Koch het verduidelik dat die besluit oor watertariewe altyd in die beste belang van die dorp en al sy inwoners geneem word. Volgens hom is die waterverliese in Oudtshoorn tans baie laag, maar steeds hoog in De Rust vanweë ou watermeters en pype. Pypvervanging is een van die prioriteite van die munisipaliteit. Hy het egter bygevoeg dat waar De Rust vir die afgelope 21 jaar amper elke Desembermaand in 'n waterkrisis was, daar nou 'n ommekeer gekom het en die dorp nie vanjaar sonder water sal wees nie. Hy het ook inwoners van De Rust bedank vir die goeie samewerking in die verband.
Wat Dysselsdorp betref is daar ook genoeg water danksy nuwe pompe wat aangebring is om water van die Varkieskloof en Vermaaksrivier boorgate vinniger by inwoners te kry. Ook die informele woonbuurte het genoeg water.
'n Oudraadslid, Johan Koegelenberg, het sy kommer uitgespreek ten opsigte van die geld wat aan die Blossomsprojek bestee word. Volgens hom is miljoene rande reeds aan die projek bestee sonder enige sukses en om nou nog R42 miljoen belastinggeld te wil bestee is nie 'n goeie belegging nie. "Blossoms is 'n risiko. Die water word al swakker en swakker," het Koegelenberg gesê en is deur Frederick Schroeder, voorsitter van die Klein-Karoo-sakekamer ondersteun.
Volgens Koch kyk die munisipaliteit ook na die moontlikheid van 'n dam by De Kombuys naby die Kango-grotte wat water vir landbou kan verskaf en die druk op die Raubenheimerdam sal verlig. Die nasionale departement van waterwese en sanitasie het volgens hom belowe om te help met die bou van damme indien die Blossoms-projek van die grond kom.
Koch het benadruk dat die Blossoms-projek slegs 'n aanvullende poging is om water aan Oudtshoorn te verskaf.
André Barnard van Wilgewandel, Grootkraal, het sy kommer uitgespreek oor beleide van die munisipaliteit wat nie nagekom word nie en die munisipaliteit self wat glo nie 'n voorbeeld stel wanneer dit by waterbesparing kom nie.
"Besparingsbeleide moet konsekwent toegepas word. Oudtshoorn het 'n beleid verander, maar strafmaatreëls word nie toegepas nie. Die beleidmakers stel nie 'n voorbeeld nie. Ons moet 'n span wees in die dorp," het Barnard gesê. Volgens hom weet hy van iemand in die raad wat vir korrektiewe dienste toestemming gegee het om 'n groentetuin so groot soos 'n rugbyveld nat te maak.
Lourencio Pick, administratiewe beampte: Groen Ekonomie van die Wes-Kaapse regering, het in sy voorlegging beklemtoon dat deur water te bespaar, dit ook voorkom dat werksgeleenthede verlore gaan. Hy het 'n pleidooi op huishoudings en besighede gedoen om water so te gebruik dat verbruik nie erger word nie. Volgens hom daal ondergrondse watervlakke ook vinnig as gevolg van al die boorgate wat tans gesink word.
Lees 'n vorige artikel: Oudtshoorn het water vir 9 maande
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'