OUDTSHOORN NUUS - Die Kangovalleie landbouvereniging het gesorg dat die inwoners van nog 'n tehuis vir bejaardes die winter knus kan wees.
Die Oudtshoorn Courant het verlede week berig dat die vereniging muurverwarmers aan Gottlandhuis geskenk het.
Tuishuis, wat oorkant Gottlandhuis in Baron van Reedestraat geleë is, het intussen ook 12 muurverwarmers ontvang.
Hennie-Edna Janse van Rensburg, voorsitter van die landbouvereniging het gesê dat boere deel is van die groter prentjie van die samelewing. “Die 72 inwoners en 22 siekeboeginwoners van Tuishuis herinner ons daaraan dat ons sirkels ook voltooing gaan nader en dat dit vir ons ‘n voorreg is om bietjie warmte te kan bring in hierdie winter.”
Die Landbouvereniging bied jaarliks 'n projek aan waarvan 'n gedeelte van die wins aan gemeenskapsprojekte bewillig word.
As 'n fondsinsamelingspoging vir 2019 word 'n pretgholfdag op 5 Oktober beplan. Vir navrae oor deelname aan die gholfdag, kontak Kobus Theron by 079 619 0124.
Tydens die oorhandiging van die muurverwarmers is, van links: Niene Saayman, Hennie-Edna Janse van Rensburg (KLV voorsitter), Helen Boulle, Francois de Kock (KLV bestuurslid) en Ansie Botes. Foto verskaf
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'