OUDTSHOORN NUUS - Alle oë was op Maandag se raadsvergadering na die Patriotic Alliance verlede week uit hul koalisie met die ANC onttrek het.
Gayton McKenzie, leier van die Patriotiese Alliansie (PA), het aangekondig dat sy party met onmiddellike effek aan die samewerkingsooreenkoms gaan onttrek.
Daar word reeds druk bespiegel dat die PA, OGI, Saamstaan en Dysselsdorp Advieskantoor kragte kan saamsnoer met die DA, wat dié party weer aan die stuur van sake sal sit.
Die raadsvergadering wat Maandag om 11:00 moes begin is aanvanklik vir 'n halfuur uitgestel omdat daar nie 'n kworum was nie, met net 11 raadslede van Icosa, ANC, Good en Saamstaan teenwoordig.
Die vergadering is daarna tot 15:00 verdaag. Daar was egter geen mosies op die agenda nie, maar daar is steeds gissings dat mosies ingedien gaan word.
Een van die belangrike punte op die besondere lang agenda was die aansuiweringsbegroting wat volgens burgemeester Chad Louw, in Februarie goedgekeur moet word.
"Die lede wat nie hier is nie, is mense wat nie gemeenskapsbelang eerste stel nie," het hy gesê.
Na 15:00 het die raadsvergadering voortgegaan met 'n aansienlik verkorte agenda wat net die begroting en mobiele toilette vir persone met gestremdhede opgehad het.
Die begroting is deur al die raadslede goedgekeur.
Die raad het aangevra dat mobiele toilette in die informele nedersettings aangebring word vir persone met gestremdhede. Volgens Louw kos dit R914.25 per maand wat agt keer se skoonmaak insluit.
Chris Mcpherson, DA-raadslid, het die voorstel gesekondeer en gevra dat hulle net die hoeveelheid toilette sal bespreek sodat dit by die begroting sal inpas.
Raadslede tydens Maandag se raadsvergadering.
Volgens Mcpherson het hulle aanvanklik nie die raadsvergadering bygewoon nie omdat die raad vyf dae voor die vergadering in kennis gestel moet word en ook die agenda moet ontvang om te kan bespreek.
"Volgens die burgemeester is net 48 uur nodig en ons het daarvan verskil. Dit gebeur gereeld dat ons nie betyds in kennis gestel word nie. Die vergadering sou ook 'n normale raadsvergadering gewees het, maar is toe skielik 'n spesiale raadsvergadering wat net aangevra word vir dringende sake.
"Na die agenda dus volgens die regulasies van 'n spesiale raadsvergadering aangepas is, het ons dit bygewoon. Die opmerking van die burgemeester waarin hy van mening is dat ons nie die gemeenskap eerste stel nie is verregaande. Ons wil hê prosesse moet op die regte manier en volgens wet verloop," het hy gesê.
Die raadsvergadering wat Maandag om 11:00 moes begin is aanvanklik vir 'n halfuur uitgestel omdat daar nie 'n kworum was nie, met net 11 raadslede van Icosa, ANC, Good en Saamstaan teenwoordig.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'