OUDTSHOORN NUUS - "Dit is lekker om so 'n klomp opgewonde mense bymekaar te sien," so het Hennie Davel, bestuurslid van die Oudtshoorn-besigheidskamer, gaste, lede en Chris MacPherson, Oudtshoorn-burgemeester, by verlede Donderdagaand se netwerkaand welkom geheet.
Hierdie geleentheid, wat maandeliks deur die Oudtshoorn-besigheidskamer aangebied word, het by die Oudtshoorn-rolbalklub plaasgevind.
Bonnievale-wynkelders en MindCubeMaths was die borge vir die aand en het vir 'n heerlike biryani gereg gesorg. Bonnievale-wynkelders het ook 'n gelukstrekking gehou en die wenner, Ralph Laruffa van Ricoh Garden Route, wie se verjaarsdag dit was, het met 'n geskenk van ses bottels wyn huis toe gegaan.
Helene Badenhorst, ondervoorsitter van Oudtshoorn-besigheidskamer, het die fokuspunte van die besigheidskamer bespreek en betrokkenheid van lede gevra rakende die agt portefeuljes as volg: belê in Oudtshoorn, volhoubaarheid van bestaande besighede, ek is Oudtshoorn, sekuriteit, toerisme, landbou, maatskaplike verantwoordelikheid en geleenthede.
Die Trees of hope-projek
Badenhorst het ook genoem dat die Trees of hope-projek, tot op hede nog deur die besigheidskamer gefinansier is en het sy 'n versoek aan die lede gerig om finansieel by die projek betrokke te raak, wat die instandhouding en natmaak van die bome vorentoe sal verseker.
"Die projek sorg dat ons dorp boomryk en groen bly. Dit kos die besigheidskamer tans R2 500 per maand om die bome te onderhou, as ons tien mense kan kry wat R250 elk skenk, sal dit werk."
Kango-grotte
MacPherson het ook die lede toegespreek en gesê dat die Kango-grotte se restaurant vanaf Maandagoggend 1 Augustus weer oop sal wees vir besigheid. Daar is ook onderhandelinge met verskeie ministers om te kyk waar hulp by die Kango-grotte, rakende die verbetering van geriewe, verleen kan word. Hy het ook genoem dat daar tans gekyk word om al die oorde te kommersialiseer sodat die gelde gebruik kan word om die infrastruktuur van die oorde op te hef.
Oudtshoorn-inkopiesentrums
Volgens MacPherson is daar twee inkopiesentrums wat in Oudtshoorn ontwikkel gaan word, die een in Bridgton, wat weer volstoom aan die gang is, en die een in Rademeyerstraat.
"Rademeyerstraat se inkopiesentrum gaan voort," het MacPherson baie beslis gesê.
Nuwe lede:
Twee nuwe lede het ook hul sertifikate tydens die geleentheid ontvang:
Ricoh Garden Route, Ralph Laruffa en SonBroers, Ruan Barnard.
Hennie Davel (bestuurslid van die Oudtshoorn-besigheidskamer), Sharon Londt (Bonnievale-wynkelders), Ralph Laruffa (verkoopsbestuurder by Ricoh Garden Route), Helene Badenhorst (ondervoorsitter van die Oudtshoorn-besigheidskamer), Ruan Barnard (direkteur van SonBroers (Pty) Ltd), Jaco van Zyl (MindCubeMaths). Foto's: Sonia Wahl
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'