Die 35-jarige Verdon Bence, eienaar van Don's Paving, het met sy Yamaha XT 660 deur die Huisrivierpas, sowat 12 km buite Calitzdorp, gery toe die polisievoertuig vanuit die teenoorgestelde rigting voor hom indraai.
"Ek het gelukkig stadig gery want die pad is onlangs geteer en ek was bang vir los klippies. Ek het net uit 'n draai gekom en was besig om te versnel toe ek die voertuig van voor af sien kom. Hy het glad nie gewys dat hy gaan draai nie, hy moes my gesien het, want hy het eers gehuiwer en toe gedraai." Bence het die polisievoertuig met sy bolyf teen die kant getref en etlike meters deur die lug gevlieg voordat hy op die padoppervlak te lande gekom het. Hy sê dat sy eerste gedagte was om uit die pad te probeer rol voordat ander voertuie bo-oor hom ry."
Twee motors wat agter die polisievoertuig gery het, het gestop en die bestuurder van die voorste voertuig het Bence te hulp gesnel. "Hy het die hele tyd by my gebly en sy serp onder my kop gesit om te keer dat die los klippe my seermaak. Die polisiemanne wat in die voertuig was het nie een kom vra of hulle kan help nie."
Die bestuurder van die polisievoertuig het op die toneel aan die Oudtshoorn Courant gesê dat hy by die rusplek langs die pad wou stilhou omdat hy sleg gevoel het en wou hê dat 'n passasier verder moes bestuur. Hy voer aan dat hy nie die motorfiets gesien het nie. Volgens Bence en omstanders het 'n ooggetuie egter vir die bestuurder gevra hoe dit moontlik was dat hy nie die motorfiets gesien het nie aangesien ander motoriste wat agter die polisievoertuig was hom kon sien.
Ambulanspersoneel wat hul na die toneel gehaas het, het besluit om die hulp van die AMS-noodhelikopter in te roep aangesien hulle vermoed het dat Bence moontlike inwendige beserings opgedoen het. Hy het gekla van borspyn en het op 'n stadium moeilik asem gehaal. Die volle geweld van die botsing is deur sy bors en skouer geabsorbeer. Hy is met die helikopter na die George-hospitaal geneem.
Na 'n deeglike ondersoek is bevind dat hy slegs spiere seergemaak het en kneusings en skrape opgedoen het en hy is dieselfde aand huis toe. Met die besoek van die Oudtshoorn Courant Woensdag het hy egter nog erg pyn gehad en kon hy nie beweeg nie. Hy was vol lof vir die optrede van die AMS-paramedici. "Hulle is ongelooflik professioneel, hulle het die hele tyd met my gepraat en presies gesê wat hulle doen, hulle ken hulle werk." Volgens hom het sy hoë kwaliteit valhelm en motorfietsklere baie daartoe bygedra dat hy nie ernstiger beseer is nie. Sy vrou Cindy beaam dit en sê dat dit genade van bo is dat haar man die ongeluk oorleef het.
Volgens kaptein Louis Visser, SAPD-woordvoerder, word 'n klag van roekelose en nalatige bestuur ondersoek.

Nooddienstepersoneel laai die beseerde Bence in die helikopter nadat hy met sy motorfiets teen ‘n polisievoertuig gebots het.
ARTIKEL EN FOTO'S: HANNES VISSER, OUDTSHOORN COURANT-REDAKTEUR