Update
OUDTSHOORN NUUS - Dat Oudtshoorniete vanuit die breë gemeenskap kan saamstaan in 'n reWOLusie is hierdie week in helder kleure duidelik. Bome, heinings en pilare in en rondom Baron van Reedesstraat en by die feesterrein is oornag in 'n kleurfantasie omskep met honderde stukke hekel- en breiwerk.
Dié wolontploffing is 'n fees vir die oog – meters en meters kleurvolle hekelwerk is om bome en pale gedrapeer en kleurvolle vlinders pryk teen heinings en in die lug tussen bome. Meer as 300 mense het die afgelope weke die naalde laat klik om dié kunswerke te skep.
Die plaaslike kunstenaar, Madeleine Miles, het dié konsep uitgedink as deel van die Ek is Oudtshoorn-inisiatief. Sy sê die idee was om die gemeenskap by die KKNK te betrek.
"Dit is belangrik vir Kunste Onbeperk dat Oudtshoorniete besef dat hulle 'n bydrae kan lewer en deel kan wees van die fees. Dit is ons mense se fees en ek dink sommige inwoners het dit tot 'n mate vergeet. Ek self is verslaaf aan hekel en het gedink die "yarnbomb" konsep kan uitstekend werk", sê Miles.
Die Oudtshoorn-besigheidskamer en Kunste Onbeperk het 1 600 bolle wol geskenk en plaaslike besighede het ook skenkings gemaak. Baie van die sogenaamde woltannies wat kinders ingesluit het, het ook hulle eie wolvoorraad gebruik.
Die kleurvolle skoenlappers is in Vredestraat teen 'n heining opgerig.
Volgens Miles is een van die woltannies, Erna Boshoff, van Witbank wat gereeld by haar kinders op Oudtshoorn kom kuier en die KKNK bywoon. Sy en 'n paar vriendinne het dadelik die brei- en hekelpenne opgeneem nadat hulle van die reWOLusie gehoor het en sy het spasie in haar bagasie prysgegee om die kunswerke uit Witbank saam te bring.
Hugo Theart, artistieke direkteur van Kunste Onbeperk sê die reWOLusie is 'n belewenis. "Dit is werklik 'n riem onder die hart om die passie en ywer waarmee almal ingespring het te beleef.
Dit was wonderlik om te sien hoe die inwoners met oorgawe deelgeneem het en met reWOLusie deel geword het van die fees. Dit is een van die inisiatiewe en projekte wat Oudtshoorniete in staat stel om ook betrokke te raak en die KKNK as hulle fees te eien."
Volgens Miles word die wolkunswerke aan die einde van die kunstefees afgehaal en geberg tot volgende jaar. "Vir volgende jaar beplan ons 'n baie groter projek, maar ek wil nie nou al die aap uit die mou laat nie."
Die fees-wolstruis by die burgersentrum. Foto's: Liezl van Niekerk
Lees 'n vorige artikel: Rewolusie gee kleur aan KKNK
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'