Gallery
OUDTSHOORN NUUS - Die vier klokke van die St Saviour Rooms-Katolieke Katedraal in Baron van Reedestraat het op 18 Desember, na bykans 22 jaar weer gelui; betyds vir Kersfees.
Die amptelike inhuldiging van die klokke is deur die Wes-Kaapse minister van finansies en ekonomiese geleenthede, Mireille Wenger, geopen. Ses priesters, gemeentelede en besoekers het dit bygewoon.
FOTOGALERY: St Saviour Rooms-Katolieke Katedraal se klokke
Die klokke moes destyds uit die katedraal se toring verwyder word omdat daar gevrees was dat die toring nie meer die gewig daarvan sou kon dra nie.
Met Biskop Noël Ruwcastle se aanstelling in 2020, het 'n gemeentelid aan hom vertel dat die katedraal se vier klokke in die waenhuis gestoor word. Na twee weke het hy gevra om na die klokke te gaan kyk en dis waar die droom om weer die klokke te hoor lui, begin het.
'n Toring van byna drie verdiepings hoog is vanjaar opgerig om die vier klokke in te hang sodat die klokkespel weer deur Oudtshoorn se strate kan weergalm - die bouwerk het in Januarie begin en is teen einde November voltooi.
Petit & Fritsen, 'n maatskappy wat steeds in Nederland bestaan, het 56 jaar gelede die klokke spesiaal met die bou van die katedraal vervaardig. Rucastle vertel dat die klokklappers nêrens te vinde was nie en dat dié maatskappy weer die klappers vir hulle moes giet en aangestuur - al die pad van Nederland.
Begunstigdes wat anoniem wil bly, het die projek gefinansier. 'n Argitek en bouer is genader en koppe is bymekaargesit om die toring op te rig. "Almal het net geweet wat om te doen, dit was wonderlik hoe alles inmekaar gepas het," vertel Ruwcastle.
Die vier klokke weeg saam byna een en 'n halwe ton en elke klok het sy eie naam en betekenis.
Die klokke se name is as volg: (grootste na kleinste)
- Salvator Mundi (Redder van die wêreld) - wat na Jesus Christus verwys en ook die St Saviour.
- Advocata Nostra (Ons advokaat) - wat na Maria, moeder van Jesus verwys.
- Apostolatum Significer (Apostoliese boodskapper) - simbool van die verkondiging van die evangelie.
- Protector Ecclesiae - beskermer van die kerk, St Joseph.
St. Saviour Katedraal is in 1967 opgerig en is die kerk van die biskop van Oudtshoorn en die moederkerk van die hele bisdom wat vanaf Plettenbergbaai in die Ooste, Victoria-Wes in die Noorde tot by Ceres in die Weste strek.
Die klokke sal op Kersdag, Nuwejaar, Sondae, op spesiale geleenthede en voortaan daagliks om 12:00 (indien beurtkrag dit toelaat) gelui word as aankondiging van dié goeie nuus.
"Hierdie klokke is vir die Oudtshoorn-gemeenskap, nie net vir die Katolieke-gemeenskap nie. Dit moet 'n baken van hoop word."
Biskop Noël Ruwcastle tydens die onthulling van die kloktoring.
Die konstruksie van die toring. Foto: Olwen West
Biskop Noël Ruwcastle voor die toring tydens die bekendstelling. Foto: Olwen West
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'