OUDTSHOORN NUUS - Die nuus van dr. Ivan Meyer, Wes-Kaapse minister van landbou, dat wynuitvoere hervat mag word is geensins 'n uitkoms vir wynboere in die Klein-Karoo-omgewing nie.
Meyer het op 7 April gesê hy verwelkom die aanpassing van regulasies om die uitvoer van wyn- sowel as varsprodukte tydens die inperkingstyd toe te laat. Volgens die verslapping van regulasies mag varsprodukte en wyn nou na hawens en lughawens vervoer word om uitgevoer te word.
Maar, dit wat wel uitgevoer kan word is skaars 'n druppel in die emmer vir wynboere in die Klein-Karoo.
Boets Nel en sy neef Carel Nel, onderskeidelik van De Krans en Boplaas-wynkelders sê dat dit slegs wyn is wat reeds gebottel en geëtiketteer is, wat uitgevoer kan word.
Volgens Carel het hulle 'n klein hoeveelheid wat reeds voor die inperking bestel was en wat nou buiteland toe gestuur kan word. "Maar dit is skaars 'n druppel in die emmer van inkomste wat ons verloor."
Boets stem met hom saam. Volgens hom het hulle 'n klein hoeveelheid 2020 Rosé wat reeds gebottel is, maar die koste daaraan verbonde is ontsaglik duur. "Ons mark berus byna 30% op die uitvoermark, maar 70% daarvan gaan na Europese restaurante toe wat nou gesluit is. Dan moet ons ook onthou dat onlangse uitvoere maar slegs 25% van 2018 se uitvoere was. Die vergunning om wyn uit te voer help dus bitter min."
Volgens ander rolspelers in die bedryf is dit ook moeilik om vars produkte uit te voer aangesien die hawens en lughawens baie stadig is tydens hierdie periode en versending is buitensporig duur omdat vliegtuie en skepe nie met vol vragte vertrek nie.
Ander landbousektore
Volgens Joey Potgieter, voorsitter van Agri Klein Karoo beïnvloed die inperking nie eintlik die groentesaadbedryf nie. Saad wat geoes is, is reeds vir die buiteland bestem en daar word tans hoofsaaklik reggemaak vir wortelsaad.
Die huidige wisselkoers bevoordeel ook die saadboere. Hy sê dat planttyd in die inperkingstyd uitdagend gaan wees aangesien daar tussen 60 en 120 mense op een land werk.
"Ons sal verseker dat hulle nie soos gewoonlik sy aan sy werk nie en goeie voorsorgmaatreëls tref."
Wat die volstruisbedryf aanbetref sê Potgieter die vleisgedeelte gaan voort, maar die uitvoer van velle en vere, wat 'n groot deel van die mark beslaan, het heeltemal tot stilstand gekom.
"Ons grootste faktor is nog steeds die droogte waarmee boere moet saamleef. Veral veeboere sukkel aangesien hier nie naastenby genoeg lusern is nie en dit van elders aangekoop moet word."
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'