OUDTSHOORN NUUS - Die geldinsamelingsprojek wat vir Piet Cordier van Prins Albert gehou is, was 'n reusesukses.
Twee projekte is onderskeidelik vanuit Oudtshoorn en Prins Albert begin om Cordier te help en tydens die afgelope naweek se Leesfees is die R22 000 wat ingesamel is aan hom oorhandig.
Deon Bosman, 'n sakeman van Oudtshoorn, wat in samewerking met die liefdadigheidsorganisasie, Oudtshoorniete Staan Saam, die projek vanuit Oudtshoorn gedoen het, het R16 000 aan hom oorhandig.
"Ons kon R16 000 aan Piet oorhandig. Ons het gehoop vir bietjie meer, maar is tevrede met dit wat ons kon insamel.
Die idee was dat hy vir hom 'n karavaan kan koop sodat hy sy kafee daaruit kan bedryf.
Ek ken Piet al jare en het hom nog altyd as 'n goeie sakeman beskou," het Bosman gesê.
Die tweede deel van die projek is deur Marelize Vorster en Daniel Derksen van The Showroom en Hélène Smit begin.
Hulle het R6 000 aan Cordier geskenk.
Cordier het verlede jaar saam met Hélène Smit, 'n mede-Prins Alberter, aan haar dokumentêre film, Eerstewater, gewerk.
Hierin vertel verskeie inwoners, onder andere Cordier, hul lewensverhaal, praat oor hul lewensuitkyk en hul vriendskappe.
Vir die eerste keer toon Cordier ook sy sang- en kitaarspeeltalent op die grootskerm.
Eerstewater is op 2 November, as deel van die Prins Albert-leesfees, by die Showroom Theatre in Prins Albert vertoon.
Cordier, beter bekend as Blinde Piet, moes sy kafee, Lekkerbek, wat hy 18 jaar in Prins Albert bedryf het toemaak omdat die gebou verkoop is.
Hy het daarna die kafee vanuit 'n ander gebou bedryf, maar kon finansieel nie bekostig om daarmee voort te gaan nie.
Hy het later die snoepgoed op die sypaadjie begin verkoop.
Cordier is 'n bekende inwoner van dié dorp en het sy sig as kind na 'n siekte verloor.
Hy het op 'n jong ouderdom ook beide sy bene in 'n treinongeluk verloor.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'