OUDTSHOORN NUUS - Die klok en horlosie in die toring van die CP Nel-museum kan moontlik een van die dae weer op tyd loop en lui. 'n Aantal vrywilligers het sowat drie maande gelede, as deel van die Ek is Oudtshoorn-projek ingespring en die toring begin skoonmaak.
Die eerste kopseer was sakke en sakke duiwemis wat op die drie verskillende vlakke van die kloktoring versamel en weggeneem moes word. Die horlosie het vir ten minste die afgelope tien jaar nie gewerk nie en daar was vrese dat dit derduisende rande sou kos om dit te herstel en weer aan die gang kry.
Tussen Johan Breunissen, Kobus Diepraam en Dries Jooste is die werkende dele reeds sodanig skoongemaak en gestel dat die klok reeds werk en lui. Die wysers moet nog gestel word en die klok moet nog ingestel word om op die korrekte tye te lui, maar volgens Jooste is niks stukkend nie.
"Dit lyk of dit maar net jare en jare se swak onderhoud was en dan het mense deur die jare die ding vol ghries gesmeer wat intussen hard geword het."
Die klok en horlosie is in 1907 uit Engeland ingevoer en in 1908 die toring ingebou toe die gebou nog die Oudtshoorn Boys High School gehuisves het.
Volgens Breunissen strek die visie van Ek is Oudtshoorn veel wyer as die herstel van die klok.
"Ons wil grag vir mense wys dat niks net eenvoudig gelos moet word om te vergaan nie. As elke inwoner selfs net die sypaadjie voor sy huis, of die buitekant van sy besigheid netjies hou, sal dit reeds 'n reuseverskil aan die dorp maak."
Hy sê verskeie mense het vir hom gesê die herstel van die horlosie gaan peperduur wees aangesien kundiges van elders genader moet word. "Ons het toe besluit om net by die basiese goed soos skoonmaak, te begin en geleidelik soos wat ons inligting kry gaan ons verder."
IDries Jooste by die werkende dele van die klok en horlosie in die toring van die CP Nel-museum.
Nadat die toring skoongemaak is, is sifdraad by die luike bo in die toring aangebring om die duiwe uit te hou en die meeste werkende dele van die klok is reeds skoongemaak.
"Ons volgende taak is om die kabels waaraan die gewigte hang skoon te maak, maar dit neem sewe dae vir die gewigte om heeltemal tot onder te sak voordat die horlosie weer opgewen moet word."
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'