OUDTSHOORN NUUS - Inwoners van Oudtshoorn het die week behoorlik gal gebraak oor die verhoogde munisipale tariewe wat vanaf 1 Julie tot 30 Junie 2024 ingestel is.
Arno Greyling, 'n besigheidseienaar en Oudtshoorniet, het die week aan Oudtshoorn Courant gesê dat hy in sy persoonlike hoedanigheid besig is om die situasie aan te spreek.
"Dit is egter nie heeltemal so maklik nie en is daar nie 'n kitsoplossing nie. Ek het reeds met besigheidseienaars en ander belanghebbendes gesels oor hoe ons die situasie gaan aanspreek. Die punt is dat die munisipaliteit die publiek wel die geleentheid gegee het om op die nuwe begroting, IDP en verhogings van tariewe te gesels, maar die kommunikasie is nie effektief nie. Mense het nie tyd om na werk vergaderings by te woon nie, en die wat dit wel bywoon verstaan nie noodwendig die akronieme ens. wat gebruik word nie."
Greyling sê hy het WhatsApp-groepe gestig waarby mense kan aansluit as hulle oor die verhoogde tariewe ongelukkig is.
"Ek wil net benadruk dat ek nie 'n kitsoplossing het nie, maar ek en ander belanghebbendes werk aan 'n plan om te kyk of ons die kommunikasie kan verbeter."
Chris Macpherson, uitvoerende burgemeester, het die week aan Oudtshoorn Courant gesê tariefverhogings word genoodsaak deur die aanvraag en koste van dienste.
"Die persentasie-verhogings word deur verskeie faktore bepaal waarvan die volgende slegs enkele faktore is. Hierdie faktore is tydens elke inligtingsessie aan inwoners voorgehou is."
Volgens hom word die bydrae van nasionale regering stelselmatig, jaar na jaar verminder. Die regering se bydraes word steeds gebaseer op bevolkingstatistiek van 2011. Intussen het die inwonertal van Oudtshoorn drasties toegeneem.
"Die koste van dienslewering aan die totale gemeenskap moet gedek word deur die betaling van diensgelde. Daar moes vanjaar, volgens nasionale voorskrifte, vir elke diens ‘n koste bepalende studie gedoen word waarvolgens tariewe op so ‘n wyse bepaal word dat dit die dienste moet dek. Indien die munisipaliteit nie so studie gedoen het nie sou die nasionale tesourie sy verdienstelike aandeel teruggehou het, volgens Omsend skrywe 122 en 123 van die nasionale tesourie se begrotings omsendskrywes."
Hy sê verder dat daar, nadat die konsepbegroting en die konsep-GOP (Geïntegreerde Ontwikkelingsplan) opgestel is, verskeie gemeenskapsvergaderings in al 13 wyke gehou is.
"Die eerste een is op 12 April gehou en die laaste een op 26 April. Tydens hierdie vergadering is die verskillende tariefverhogings aan inwoners voorgehou. Inwoners is ook gevra om navrae en voorstelle per e-pos aan die munisipaliteit te stuur voordat die finale begroting deur die raad goedgekeur is. Benewens hierdie sessies is sakelui ook na ‘n sessie in die raadsaal genooi waar finansiële konsultante spesiaal gereël was om die omvang van die begroting te verduidelik. Dit is betreurenswaardig dat slegs drie sakemanne die sessie bygewoon het."
Macpherson het ook gesê dat beurtkrag ook 'n rol in die verhoging van tariewe gespeel het.
"Beurtkrag bring talle uitdagings wat die munisipaliteit miljoene rande kos waarvoor nie begroot was nie. As gevolg van beurtkrag het die munisipaliteit binne sewe maande meer as R23 miljoen aan elektrisiteitinkomste verloor. Dit is buiten die bykans R5 miljoen wat as gevolg van vandalisme en kabeldiefstal verloor is. Om dienste by die onderskeie munisipale kantore tydens beurtkrag ononderbroke te lewer word kragopwekkers gebruik wat enorme uitgawes aan diesel te weeg bring. Addisionele kragopwekkers moes ook aangekoop word."
Volgens hom word watervoorsiening aan Dysselsdorp en die landelike waterkskema direk deur beurtkrag benadeel aangesien die pompe wat die reservoirs moet vul nie voldoende water kan lewer nie.
"Die gevolg was dat reuse-uitgawes aangegaan moes word om water met tenkwaens aan inwoners te voorsien. Kragopwekkers en omskakelaars is intussen aangekoop, om die probleem aan te spreek."
Inwoners moet ook besef dat die munisipaliteit slegs dienste kan lewer as die begroting van inkomste en uitgawes klop. Sou die munisipaliteit nie tariefverhogings toepas nie, sal dit beteken dat dienslewering, soos in talle ander dorpe in die land heeltemal tot stilstand sal kom.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’