OUDTSHOORN NUUS - Die geïntegreerde ontwikkelingsplan van Oudtshoorn-munisipaliteit fokus op 'n gebalanseerde ontwikkelingstrategie wat die beskerming van ons omgewing verseker.
Volgens Aurelia Oliphant, woordvoerder van die Oudtshoorn-munisipaliteit, is die lugbesoedelingsbewusmakingsprojek van die munisipaliteit deel van die geïntegreerde ontwikkelingsplan en word dit in samewerking met die Eden-distriksmunisipaliteit gedoen.
"Die hoofdoel van hierdie projek is om die publiek bewus te maak van voertuigvrystellingsgasse en om die impak wat dit op die lugkwaliteit het te verminder.
Die munisipaliteit beoog om hierdie projek twee keer 'n jaar te doen, aangesien dit by alle B-munisipaliteite in die Wes-Kaap gedoen moet word Die eerste toets was 'n paar weke gelede gedoen."
Oliphant sê die eerste deel van die toets was om die bestuurder te vra om die revolusie van die enjin te verhoog sodat die toetsbeampte kan sien of daar enige uitlaatgasse uitkom om die kwaliteit daarvan te bepaal. Wanneer daar oormatige rook uitkom, word 'n deursigtigheidsmeter gebruik om vas te stel of die lesing binne perke is.
Hierdie meter word in die uitlaatpyp van die voertuig gedruk, dan moet die bestuurder drie keer die voertuig se revolusie verhoog, waarna die resultate van die toets uitgedruk word. Hierdie resultate is 'n bewys dat die voertuig voldoen aan die vereistes van die Nasionale Raamwerke van Lugkwaliteitbestuur in Suid-Afrika. Plaaslike munisipaliteite het die opsie om 'n boete of waarskuwing uit te reik wanneer die voertuig nie aan die vereistes voldoen nie.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'