OUDTSHOORN NUUS - Om die moraal van die munisipale amptenare te verhoog, het Oudtshoorn-munisipaliteit 'n 'Wellness Day' op Vrydag 1 Junie by die De Jager-sportkompleks gehou.
Die munisipale menslike hulpbronne-afdeling het Juniemaand gemerk as werk/loopbaan en intellektuele maand.
"Laat ons almal onsself daaraan herinner hoe geëerd ons is om deel van die arbeidsmag van Suid-Afrika te wees" het die uitvoerende burgemeester," Colan Sylvester, gesê.
Deel van die dag se verrigtinge was 'n potjiekoskompetisie waaraan die verskillende departemente deelgeneem het.
"Dankie aan al die potjiekosmeesters wat hul kooktegnieke langs die vure sal wys," het Sylvester hulle voor die aanvang van die kompetisie aangemoedig.
Nie eers die welkome reën kon die feestelike gemoedere laat daal onder die werknemers en hul potjiekosvure nie.
Die potjiekos-wenners was die departement van finansies.
"Die doel van die hele aangeleentheid is om 'n gevoel van samehorigheid tussen werkgewer en werknemer te bewerkstellig, die klem op die belangrikheid van persoonlike welstand te sit en ook om die munisipaliteit se verhoudings met alle relevante belangegroepe te versterk," het Ntobeko Manqwengqwe, munisipale woordvoerder, gesê.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'