Update
OUDTSHOORN NUUS - Leerders van Voorbedacht Primêr by Matjiesrivier het Sondag breed geglimlag toe elkeen 'n splinternuwe kombers ontvang het. Meer as 100 motorfietsryers van oor die Suid-Kaap heen, het Sondag by De Braaikraal-restaurant bymekaargekom vir die streek se jaarlikse Blanket Run. Die motorfietsryers het om ongeveer 11:30 na Swartberg Country Manor vertrek waar die opgewonde kinders vir hulle gewag het.
Volgens die mede-eienaar van De Braaikraal, Wessels Bower (jr.), het hy gehoor van die behoefte van die skool en dit aan David Herring, president van die Warlocks-motorfietsklub genoem.
Daar is toe besluit dat vanjaar se Blanket Run ten bate van Voorbedacht Primêr sal wees. Warlocks het met die Christian Motorcycle Association (CMA) kragte saamgespan en motorfietsryers van die Suid-Kaap genooi om komberse te skenk. Langenhoven Gimnasium het ook 30 komberse geskenk wat namens hulle deur 'n motorfietsryer van Oudtshoorn oorhandig is.
Die skenkings is met 'n bakkie wat deur Winston Linford Motors beskikbaar gestel is, vervoer. Die oorhandiging van die komberse en warm klere is by Swartberg Country Manor gedoen waar die kinders en motorfietsryers met koffie, kolwyntjies, biscotti en broodjies onthaal is.
Pastoor Paul Williams van die CMA het die ongeveer 70 kinders toegespreek waarna motorfietsryers die komberse en klere oorhandig het. Leonie Fourie, bestuurder van Swartberg Country Manor, het gesê die gemeenskap se betrokkenheid by Voorbedacht maak 'n groot verskil in die kinders se lewens.
'n Leessentrum wat Swartberg Country Manor drie jaar gelede vir die kinders ingerig het, kon verlede maand na 'n groter perseel verskuif word danksy privaatskenkings. Volgens haar kom die leerders uit huise waar daar groot finansiële nood is.
"Projekte soos hierdie dra geweldig by tot 'n beter lewe vir kinders in die vallei."
Die Blanket Run is Sondagmiddag by De Braaikraal met 'n potjiekosete afgesluit.
Lees 'n verwante artikel: Motorfietse bring komberse
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'