OUDTSHOORN NUUS - Enige bespiegelinge dat Oudtshoorn teen die einde van die week straks 'n nuwe onderburgemeester en munisipale bestuurder kan hê, het Dinsdagoggend tydens 'n spesiale raadsvergadering in die banketsaal soos mis voor die son verdwyn.
Hierdie verwikkelinge volg nadat raadslid Mlandeli Nyuka (Saamstaan) vroeër 'n mosie van wantroue teen die tans dienende onderburgemeester, Vlancio Donson (Icosa), en waarnemende munisipale bestuurder, Walter Hendricks, ingedien het.
Met die aanvang van die vergadering het Colin Sylvester (OGI) dadelik 'n voorstel gemaak dat die twee mosies van wantroue tot die volgende raadsvergadering oorstaan en dat die eerste item op die agenda (opgradering van die infrastruktuur van die Raubenheimerdam) as 'n groter noodsaaklikheid, eerste bespreek moet word.
Donson het egter kapsie teen hierdie voorstel gemaak en Sylvester daarop gewys dat die partye (DA-raadslede en Dysselsdorp Advieskantoor) met wie hy glo "konkel" om die twee mosies van wantroue teen homself en Hendricks te laat dien, nie by die raadsvergadering teenwoordig is om die mosies ter tafel te kan lê nie.
Slegs OGI en Vryheidsfront wat dié twee mosies ondersteun het, was teenwoordig.
Volgens Donson was die DA en Dysselsdorp Advieskantoor se afwesigheid Sylvester se grootste motivering om die mosies te laat oorstaan. Die raad het toe besluit om tot stemming oor te gaan om oor dié aangeleentheid te beslis, waarna 12 raadslede het ten gunste gestem dat die twee mosies van wantroue, wel eerste bespreek moet word.
Sylvester het direk hierna die raadsaal verlaat.
Donson het in reaksie hierop die munisipale raad daarop gewys dat Sylvester aangekla behoort te word omdat hy nie toestemming by die speaker verkry het om die raadsaal te verlaat nie.
Dit het egter later in die raadsvergadering aan die lig gekom dat Nyuka minute voor die raadsvergadering in sitting was, 'n brief aan die speaker, Sonia Bentley (Good), oorhandig het waarin hy die raad van sy besluit verwittig het om sy mosies van wantroue teen Donson en Hendricks te onttrek.
Beide mosies van wantroue is op grond hiervan nietig verklaar. Nyuka het direk daarna toestemming by die speaker gevra om verskoon te word van die raadsvergadering, wat deur Bentley toegestaan is.
Die raadsvergadering is afgesluit met 'n eenparige besluit van die raad dat die verlenging van die tender op die opgradering van die Raubenheimer dam, goedgekeur moet word.
Die waarnemende direkteur van gemeenskapsdienste Fatuse, sal ook in sy pos aanbly totdat die tugverhoor van die voormalige direkteur van gemeenskapdienste Tommy Matthee, afgehandel is.
Walter Hendricks.
Vlancio Donson. Foto's: Wyndham Ewerts
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'