PRINS ALBERT NUUS - 'n Moratorium op die sink van boorgate binne die dorpsgebied van Prins Albert word tans oorweeg. So sê die waarnemende munisipale bestuurder, Anneleen Vorster, oor die toename van boorgate binne dié dorpsgebied waar streng waterbesparingsmaatreëls geld.
Binne die afgelope ses dae is minstens drie boorgate op dorpserwe gesink om tuine te red, wat 'n ernstige invloed het op die grondwaterkapasiteit.
"Die sink van boorgate is vir my 'n bron van kommer. Daar is nie tans 'n moratorium hierop nie. Ek wil dit graag op die volgende spesiale raadsvergadering voorstel."
Dié dorp en streek gaan gebuk onder een van die ergste droogtes in dekades. Prins Albert het reeds verlede jaar 'n verbruiksbeperking van 90 liter water per persoon per dag ingestel. Inwoners kla nou ook oor die talle gastehuise in die dorp – en al hoe meer word goedgekeur – met 'n
besettingsgemiddelde van een of twee nagte.
'n Groep inwoners het egter leiwaterbeurte wat deur die Kweekvallei-waterraadbestuur word. Elke beurt beteken duisende liters per dorpserf uit die Swartberg.
Volgens Vorster is die munisipaliteit besig om saam met 'n provinsiale taakspan te werk om strenger maatreëls in te stel.
"Die wetstoepassingskapasiteit is beperk. Ons kyk nou na maniere om die beperkings af te dwing, wat moontlik vloeimeter-beperkingsmeganismes by die grootste verbruikers mag insluit."
Van die grootste uitdagings is die instandhouding van netwerke op privaat eiendom, sê sy.
"Daar is gebiede met enorme waterverliese weens lekkasies. Die munisipaliteit sal dus weer 'n deur-tot-deur-veldtog moet begin en herstelwerk doen. Die verantwoordelikheid van privaat eienaars het nou die verantwoordelikheid van die munisipaliteit word."
Wat munisipale netwerke betref onderneem die munisipaliteit wel instandhouding, volgens haar. "Ons is nou al 'n geruime tyd besig met die opgradering van die opgaardamme in Prins Albert. Ons het 'n tru-osmose-eenheid in Leeu-Gamka geïnstalleer en watertenks in Klaarstroom vervang. In groot gedeeltes van die dorp Prins Albert het ons egter nog asbes-pypleidings wat vervang moet word. In dié stadium is ons netwerk-onderhoudswerk eerder reaktief as proaktief."
Die munisipaliteit van Prins Albert is besig om 'n pro-aktiewe instandhoudings-program saam met die provinsie op te stel, sê sy. Die Wes-Kaapse regering het hidroloë aangestel om 'n studie te doen van waterbronne en hul volhoubaarheid. 'n Siviele ingenieur is ook aan Prins Albert toegewys om
die beplannings- en moniteringskapasiteit in die munisipaliteit te verbeter.
Annelie Rabie, burgemeester van die Sentraal-Karoo-distriksmunisipaliteit (SKDM), het by navraag gesê daar is tans geen nasionale wetgewing of plaaslike wette wat boorgate vir persoonlike gebruik verbied nie.
"As deel van die SKDM se waterplan gaan ons egter intensief na tuinboorgate moet kyk vir belastingdoeleindes."
'Ons bring jou die nuutste Prins Albert, Klein Karoo nuus'