OUDTSHOORN NUUS - Juhandre Goliath (31), wat van die moord op Eddie Gertse in hegtenis geneem is, het vandag 13 Desember vir 'n borgtogaansoek verskyn.
Gertse is op 3 Desember met 'n bottelkop gesteek na hy en Goliath na bewering in 'n onderonsie met mekaar was. Goliath is kort na die moord in hegtenis geneem.
Oudtshoorn Courant het verlede week berig dat daar beweer word dat die stryery tussen Gertse en Goliath glo oor 'n meisie gegaan het.
Edlin Gertse, Gertse se suster, sê dat die wonde oor haar broer se dood nog rou is.
"Hy word die naweek begrawe. Dit is steeds vir ons as familie bitter moeilik om te aanvaar dat hy so wreed moes sterf."
Volgens haar word hy Saterdag
16 Desember vanuit die Pinkster Protestante Kerk in Dysselsdorp begrawe. Die diens word voorafgegaan met 'n diens by hul huis in Dysselsdorp by die nuwe Asla-uitbreiding, huisnommer 2771. Na die kerkdiens sal die ter aarde bestelling plaasvind.
Gertse laat sy ma, drie susters, sy pa en 'n broer en twee kinders van onderskeidelik vyf en twee jaar oud agter.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’