OUDTSHOORN NUUS - Die verhoor van ’n man van Rose Valley wat na bewering uit jaloesie ’n man met ‘n mes in die rug gesteek en van moord aangekla word, is Maandag in die Oudtshoorn-streekhof vir slotbetoë en vonnisverrigtinge tot volgende maand uitgestel.
Denrick Carelsen wat op tweede Kersdag 2017 vir Wilfred Heinrich Davids by die blinkhokke in Rose Valley met 'n mes gesteek het pleit onskuldig. Hy het self Maandag getuig nadat die staat sy saak gesluit het.
Volgens hom was hy die betrokke dag buite die huis van sy voormalige meisie toe Davids met sy bromponie daar aangekom het. Davids wou by hom weet wat sy probleem is.
“Ek het aan hom gesê ek het nie ‘n probleem nie en dat ons net gesels.”
Davids het toe glo ‘n ketting onder die sitplek van sy bromponie gehaal en hom daarmee probeer slaan.
“Ek kon nie verstaan waarom hy dit gedoen het nie. Ek het die ketting vasgegryp en ons het begin stoei. Ek het later die mes uitgehaal en daarmee na hom gemik maar nie gesteek nie. Ons het oor die bromponie geval en op die grond verder gestoei en rondgerol. Ek het steeds die mes in my hand gehad en later iemand hoor skree dat hy bloei. Ek was nie bewus dat ek hom raakgesteek het nie. Alles het so vining gebeur. Ek weet nie hoe hy aan die wond gekom het nie.”
Carelsen het erken dat hy die oorledene op sy kop getrap het en dat dit nie nodig was nie. ‘n Ooggetuie, Veronica Campher, het vroeër getuig dat Carelsen vir Davids van agter gesteek het terwyl hy besig was om van hom weg te struikel.
Volgens die geneesheer wat die nadoodse ondersoek gedoen het is Davids in die rug gesteek.
Die saak dien voor streeklanddros Neels Nortjé en is vir slotbetoë tot 10 Desember uitgestel. Corné Pretorius is die aanklaer en Vaughen Shone verskyn namens Carelsen.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'