OUDTSHOORN NUUS - Die saak teen drie mans van Rose Valley, Oudtshoorn, wat van moord aangekla word, is verlede week in die streekhof vir uitspraak tot volgende maand uitgestel omdat een van hulle in kwarantyn was.
Elias Kammies, Heinrich September en Joseph Olckers word van moord op Johannes Jonathan, ook van Rose Valley, aangekla.
Jonathan se lyk is op 22 Maart 2019 op die De Rust-pad naby een van die stop-en-ry punte aangetref.
Al drie pleit onskuldig.
Volgens Kammies was hy die betrokke dag in Dysselsdorp toe iemand hom kom roep en oor Jonathan se dood inlig. September en Olckers ontken ook dat hulle op die moordtoneel was.
September en Olckers se regsverteenwoordiger, adv. Pieter van Wyk, vra vir hul vryspraak omdat die staat nie sy saak bo redelike twyfel bewys het nie en hulle die voordeel van die twyfel behoort te kry. Volgens hom behoort die getuienis van die enigste staatsgetuie verwerp te word as gevolg van teenstrydighede.
Kammies se regsverteenwoordiger, Cindy Murray-Smith, vra ook vir sy vryspraak.
Die staatsaanklaer, Brandon Smith, is van mening dat genoeg getuienis voor die hof is vir skuldigbevinding.
Die saak dien voor streeklanddros Sylvia Mandla, en is vir uitspraak tot 16 Februarie uitgestel.
Kammies se borgtog van R1 000 is verleng. September en Olckers bly in aanhouding.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'