OUTSHOORN NUUS - Die Oudtshoorn-munisipaliteit is besig met besprekings met die nasionale departement van openbare werke oor die moontlikheid om 'n nuwe regeringsgebied in die Groter Oudtshoorn munisipale gebied te vestig.
Volgens Ntobeko Mangqwengqwe, woordvoerder van die Oudtshoorn-munisipaliteit, gaan die nuwe gebied uit nuwe of bestaande geboue ontwikkel word sodat verskeie staatsdepartemente en -dienste in een sentrale area gevestig kan word.
Oudtshoorn-burgemeester, Chris Mcpherson, het in dié verklaring gesê dit is deel van die dorp se 2030-visie.
"Dit sal dienste soos die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SARS) en landelike ontwikkeling insluit. Dienste wat tans nie in ons dorp en omgewing beskikbaar is nie.
"Volgens die nasionale raamwerk vir ruimtelike ontwikkeling is Oudtshoorn 'n streekanker en werk ons hard daaraan om dit 'n realiteit te maak," het Mcpherson gesê.
Gevan Juthe, onderburgemeester, het gesê die ekonomiese impak vir die belegging sal verskeie geleenthede in die konstruksie- en operasionele fases inbring.
"Dit is ons wens om, in samewerking met die regering, dienste nader aan die mense te bring."
Die proses is deur die strategiese dienste departement van die Groter Oudtshoorn gefasiliteer as deel van die nasionale strategie vir generasie van klein dorpies.
'n Formele voorlegging is aan die nasionale departement van openbare werke gedoen om te kyk watter opsies beskikbaar is om die projek moontlik te maak.
'n Gesprek is op 12 Mei, met 'n afvaardiging van lede van die departement van openbare werke, gehou en verskeie persele is besoek om opsies te vergelyk.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'