OUDTSHOORN NUUS - Oud en jonk van heinde en vêr het verlede naweek die 50ste radiobeheerde modelvliegtuigskou by die Oudtshoorn-lughawe en De Jagers-sportkompleks bygewoon.
Toegangsfooie het R20 vir volwassenes en R10 vir kinders beloop terwyl belangstellendes die binneshuise-vliegtuigskou die Vrydagaand by De-Jagers-sportkompleks gratis kon besigtig.
Meer as 2 000 geesdriftige toeskouers het vanaf verlede Donderdag tot Saterdag opgedaag om deur indrukwekkende vliegtuigtoertjies in die lugruim getrakteer te word.
Dié skou is in 1969 vir die eerste keer deur Chris Sweetman in Kaapstad aangebied waarna dit na Oudtshoorn geskuif is. Keith Bowels, stigterslid van Cango-vliegklub het egter destyds vir Sweetman oorreed om dié skou na Oudtshoorn te skuif vanweë die gunstige droë weerstoestande.
Vanjaar het hierdie modelvliegtuigskou tegnies dus sy 50ste bestaansjaar gevier. Hierdie skou is ook die enigste van sy grootte en soort in Suid-Afrika.
Volgens die voorsitter van die Cango-vliegtuigklub en organiseerder, Fanie Fourie kan die langlewendheid van dié toernooi toegeskryf word aan die entoesiastiese toeskouers en ook die innoverende kundigheid van die modelvliegtuig-eienaars wat die skou jaarliks bywoon.
'n Vliegtuig-operateur doen herstelwerk aan sy modelvliegtuig.
Alle vliegtuig operateurs wat aan 'n vliegtuigklub behoort moet oor 'n vliegtuiglisensie beskik. 'n Ander belangrike kriteria is dat hulle ook by die South Africa Model Airline Assosiation (SAMAA) geregistreer moet wees.
Altesaam 300 vliegtuie met 136 vlieenieërs en het vanjaar ingeskryf wat verskillende tipe modelvliegtuie soos helikopters, turbien-aangedrewe jets, valskerms en skaalmodelle van die Eerste en Tweede Wêreldoorlog insluit het.
Tydens die prysuitdeling wat Saterdagaand by die Oudtshoorn-rolbalklub gehou is het 23 vlieëniers in verskillende kategorieë wisseltrofees ontvang. Fourie sê dat alhoewel die laaste dag (Sondag) van die skou uitgereën het, is die organsiseerders verskriklik dankbaar vir die broodnodige lafenis wat Oudtshoorn en omgewing ontvang het.
Een van die pragtige modelvliegtuie wat die naweek op skou was. INLAS: Een van die vliegtuie voer toertjies in die lug uit. Foto's: Wyndham Ewerts
Meer as 2 000 geesdriftige toeskouers het vanaf verlede Donderdag tot Saterdag opgedaag om deur indrukwekkende vliegtuigtoertjies in die lugruim trakteer te word.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'