OUDTSHOORN NUUS - Vroue in Oudtshoorn kan tot 28 Mei vir 'n borssonar en mammogram by die mobiele mammogram-eenheid by die Ostrich Emporium gaan.
Hierdie is 'n inisiatief van die Keystone Medical Group wat die topgehalte mobiele kliniek in dorpe, waar vroue moeilik toegang het tot dié geriewe het, stasioneer.
Volgens Rosa-Marie Cronje, hulle vroue-gesondheidsorgbestuurder is hulle missie om vroue bo 40 te motiveer om een keer 'n jaar vir 'n mammogram te gaan.
"Ons probeer hierdeur ook bewusmaking skep vir borskanker. Hoe vinniger dit opgetel word hoe beter. Ons het 'n gespesialiseerde mamografis en sonargrafis wat met die pasiënte werk en daarna direk met radioloë in Pretoria konsulteer wat beteken dat die pasiënt in ongeveer 'n halfuur hul uitslae het. Die konsultasie met die radioloog vind via Skype plaas."
Dit is die eerste keer wat hulle in Oudtshoorn is en het besluit om die dorp te besoek omdat die naaste plek waar mammogramme gedoen kan word in George is. Die mobiele mammogramkliniek is die enigste van sy soort in Suid-Afrika en hulle beoog om die diens vir privaat- sowel as mediese fonds pasiënte so toeganklik as moontlik te maak. Volgens Cronje is besprekings belangrik en kan hulle dit doen deur 087 055 0587 (opsie 8) te skakel.
Mediese koste is wel van toepassing.
Vir meer inligting besoek hul webtuiste by www.ks-med.co.za/breast-cancer-screening-unit/
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'