OUDTSHOORN NUUS - Die Wes-Kaapse minister van menslike nedersettings, Tertuis Simmers, het verlede Vrydag die Oudtshoorn-munisipaliteit se bouperseel op Dysselsdorp besoek.
Hierdie bouprojek is die eerste van sy soort sedert 1994 vir die inwoners van Dysselsdorp. Op dié bouperseel word daar beoog om 532 wooneenhede, sewe besigheidspersele, twee kerke en een kleuterskool te bou.
Die projek se waarde beloop digby R35 miljoen en het reeds verlede jaar Augustus begin en sal volgens die kontrakteurs in Julie 2021 voltooi wees. Simmers het gesê dat die kontrakteurs en ingenieurs hom die versekering gegee het dat alle Covid-19, gesondheids- en veiligheidsmaatreëls streng nagekom word.
"Wanneer ons in die belang van die gemeenskap optree is projekte soos hierdie moontlik. Dit is tyd dat die gemeenskap van die groter Oudtshoorn soos een saamstaan sodat hul belange bevorder kan word en nie dié van ander groepe wat baat wil vind by hul behoeftes nie."
Volgens Simmers is daar 'n ook algemene konsensus bereik wat bepaal dat projekte van FLISP (Finance Linked Individual Subsidy Program) ondersoek moet word om voorsiening te maak vir individue wat meer as R3 500, maar minder as R22 000 per maand verdien. Mense in hierdie groep kwalifiseer nie vir 'n laekoste-behuisingsubsidie nie, maar word ook nie deur middel van finansiële instellings soos banke tegemoet gekom in terme van behuisingfinansiering nie.
Hy het ook die Oudtshoorn-munisipaliteit aangeraai om volhoubare boutegnologie in hul toekomstige behuisingsprojekte te implementeer.
Een van die plaaslike inwoners het aan die Oudtshoorn Courant gesê dat hy sedert 1992 op die waglys is. "Ek is tans 41 jaar oud en kan nie wag om 'n tuin by my nuwe huis te begin nie. Ek wil die regering hiervoor bedank en belowe dat ons na ons huis sal omsien.''
Van links is Noluthando Mwati (waarnemende burgemeester van Oudtshoorn), Hendrik Botha (raadslid), Memory Booysen (burgemeester, Garden Route-distriksmunisipaliteit), Nellie Soman (raadslid), Matlodi Maseko (behuisingskomitee voorsitter) en Tertuis Simmers (Wes-Kaapse minister van behuising). Foto: Wyndham Ewerts
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'