OUDTSHOORN NUUS - Minder toeriste het Oudtshoorn en die Klein-Karoo verlede jaar gedurende Desember as in Desember 2017 besoek.
Verskeie toerismebestemmings het dié tendens bevestig.
Volgens die Kango-grotte se besoekerstatistiek het minder plaaslike en buitelandse toeriste die grootste aantrekkingskrag in die Klein-Karoo besoek. In Desember 2017 het altesaam 30 965 persone die grotte besoek, Vergeleke 27 624 in Desember 2018.
“Alhoewel die besoekers aan ons Zipline gedurende 2018 met 100% gegroei het, het ons gedurende Desember sowat 15% minder besoekers as in Desember 2017 ontvang,” sê Jean Botha van Cango Caves Estate.
Volgens Johan Keller van Highgate Volstruisplaas was hul besoekerstal met sowat 9% af. “Sedert ons Highgate vyf jaar gelede oorgeneem het, het ons besoekerstal jaar na jaar toegeneem. In Desember was dit die eerste keer minder as die vorige jaar.”
Hy skryf die afname aan verskeie faktore toe. “Suid-Afrikaners sny duidelik die rieme dun in die lig van die onsekerheid oor die politieke klimaat en die ekonomie is verder onder druk, veral weens die droogte in ‘n groot deel van die land."
“Met stygende lewenskoste en die duur brandstofprys probeer gesinne maar spaar waar hulle kan: ‘n roomysverkoper op die strand vertel dit was die eerste jaar wat hy gesien het ouers met kinders wat roomys wil hê, loop verby sonder om roomys te koop.”
Weens die lekker weer by die see het minder besoekers die binneland besoek. “Die een dag (28 Desember) toe dit by die see gereën het, het die motors binneland toe gestroom. Highgate het daardie dag uitstekend gevaar, maar die besteding aan produkte was af.”
Volgens Keller, wat die Keller-broers se toerismebedryf bestuur terwyl sy broer Viljee die boerdery bestuur, is dit die volstruisskouplaas en gastehuise wat die boerdery ondersteun met die huidige droogte, terwyl die twee bedrywe mekaar in die verlede goed aangevul het. “Dit is die eerste keer in baie jare dat ons ‘n beperkte lusernsaadoes gaan hê.”
Gastehuise en hotelle in die dorp het ook ‘n laer besoekerstal gehad. “Die bedbesetting was laag,” sê Niel Els, mede-eienaar en bestuurder van Turnberry Boetiekhotel. “Tussen Kersfees en Nuwejaar was die dorp ‘n malhuis en vir twee, drie aande was daar nie beddens beskikbaar nie.”
Hy bevestig Keller se mening dat die ekonomie Suid-Afrikaners knou. “Binnelandse besoekers slaap nie oor nie, hulle ry reguit see toe.”
Volgens Els kan ‘n oplewing in toerisme teen Oktober verwag word, want vooruitbesprekings uit die buiteland lyk goed. “Tot dan gaan besoekers wegbly, want ‘n mens reis nie in Afrika tydens ‘n verkiesing nie.”
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'