Die motor waarin `n leerlingbestuurder Dinsdagmiddag bestuurslesse ontvang het, het bo-op `n vliegtuig in die AIFA-loods te lande gekom nadat dit agterkant eerste deur `n draadheining en daarna deur `n muur van die AIFA-gebou "gevlieg" het.
Die gebou grens aan die toetsruimte vir bestuurders by die plaaslike lisensiekantore. Die ongeluk het omstreeks 16:10 plaasgevind.
Dit wil voorkom asof die leerling, Me T. Kolisi van Port Elizabeth afkomstig, `n eenvoudige maneuvre moes uitvoer toe sy agteruit in `n parkeerspasie moes intrek. Sy het egter haar merk gemis en haar ooglopend ook misgis met haar spoed.
Die parkeerplek eindig met `n helling wat die voertuig deur die lug laat trek het om deur beide die heining asook die gebou te breek.
Nadat die Volkswagen Polo deur `n muur van die stoorruimte gebars het, het die voertuig op die stertkant van `n Aerostar vliegtuig beland waar dit vasgedruk is deur die vlerk van nog `n vliegtuig. Die Aerostar wat erg beskadig is, is die eiendom van `n plaaslike boer, Johan Strassheim.
Na bewering was die instrukteur, Mr M Godongwana, nie in die motor nie en het hy die leerling vanaf `n veilige afstand gewaarsku om stadiger te ry. Dit weerspreek egter `n polisieverklaring wat aandui dat beide bestuurder en instrukteur vir ligte beserings behandel is. Volgens nooddienspersoneel is slegs Kolisi na `n plaaslike hospitaal geneem en vir skok behandel.
Twee ander vliegtuie, `n Cessna 150 wat aan AIFA behoort, en `n Cessna Cardinal 177 van die aangrensende Aero-klub het ook skade opgedoen. Volgens polisie beloop die totale kostes van die skade bykans R4 miljoen.
Godongwana is na bewering die broer van die eienaar van die Volkswagen Polo en het glo privaatlesse aangebied. Dit kon nie vasgestel word of hy verbonde is aan `n bestuurskool nie. Dit is ook nie duidelik of die toetsterrein op daardie tyd van die dag vir privaatlesse gebruik mag word nie.
Sersant Gretchen Michaels van die Oudtshoorn polisie het bevestig dat `n saak van roekelose en nalatige bestuur ondersoek word. Hierdie voorval het opnuut vrae laat ontstaan oor praktyke by die toetsterrein. (Sien berig op bl. 2).

Foto: Jacques Swart