OUDTSHOORN NUUS - Die taxistaanplek op Dysselsdorp wat in 2013 teen R4 miljoen deur die munisipaliteit opgerig is, staan sedertdien verlate en is heeltemal geplunder.
Inwoners van Dysselsdorp is moeg gekla oor die toestand van die taxistaanplek en die feit dat daar verskeie misdaadsaktiwiteite plaasvind is ook 'n groot bron van kommer.
In 2013 het Oudtshoorn Courant berig oor die staanplek wat "nagenoeg R600 000 in die gemeenskap sou teruggeploeg met werk wat aan 60 inwoners verskaf sou word". Dit het egter nooit gebeur nie.
Volgens 'n inwoner, George Meyer, is dit veral kinders wat tans 'n probleem by die taxistaanplek is.
"Hulle rook en drink en gebruik dwelms daar. Grootmense stuur kinders om die bakstene uit die grond te steel. Jong meisies, waarvan meeste minderjarig is, het seks met mans daar. As die mense dwelms gebruik het dan gaan soek hulle in die dorp moeilikheid. Die tehuis is 'n groot teiken en inbrake vind gereeld daar plaas en die dwelmgebruikers roof sommer die inwoners in die strate ook."
Met Oudtshoorn Courant se besoek aan die taxistaanplek, het verskeie jong mense op die dak van die gebou gespeel terwyl ander in die gebou gesit en rook het.
Daar was geen sekerheidswagte nie en die palissadeheinings rondom die gebou is weg.
Met nadere ondersoek is gevind dat die toilette in die dames- en mansbadkamers afgebreek is, die wasbakke, kosyne en deure is afgebreek en selfs vensters is uitgehaal.
Volgens Chris Macpherson, uitvoerende burgemeester van Oudtshoorn is hulle "terdeë bewus van die huidige situasie".
Volgens hom het die raad die afgelope paar jaar verskeie opsies oorweeg om die fasiliteit effektief te benut, maar die implementering van die raadsbesluite kon weens verskeie redes nie deurgevoer word nie.
"Tans is ons besig om ons bateregister ten opsigte van ons geboue te herevalueer om meer effektiewe benutting te verseker. Verskeie opsies word oorweeg en die taxistaanplek en die ontwikkelingsvoorstelle vir Dysselsdorp moet geïntegreer word.
Macpherson sê die munisipaliteit doen ook 'n beroep op die inwoners om hulle te help om die vandalisme en dwelmmisbruik hok te slaan. "Dit is immers ons almal se bate," het hy gesê.
Volgens hom is die polisie en die munisipale wetstoepassers in die proses om meer daadwerklik op te tree teen oortreders en bykomende sekuriteitsontplooiing word voorsien.
Volgens kaptein Joey Strydom, stasiebevelvoerder van die Dysselsdorp-polisiestasie, is die taxistaanplek 'n groot kommer vir die polisie.
"Klagtes word voortdurend uit die gemeenskap gerapporteer van vandalisme, dwelmmisbruik, drankmisbruik en seks. Ons lede doen gereeld patrollies en voer gereeld arrestasies uit op die perseel, maar geen klagtes word deur die eienaar van die perseel gelê vir diefstal, vandalisme ensovoorts nie."
Die gebou by die staanplek is al oor die jare gevandaliseer.
Krippe in die mansbadkamer is uitgesteel.
Bakstene buite die gebou word stuk-stuk weggedra.
Palissadeheinings rondom die taxistaanplek is afgesteel. Foto's: Liezl van Niekerk
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'