Update
OUDTSHOORN NUUS - 'n Groep fietsryers, 'Miles for Smiles', het Maandagoggend in Oudtshoorn aangekom as deel van hul 10 dae bewusmakingsveldtog om fondse vir kinders met gesigsgebreke in te samel.
Alle fondse wat deur hierdie veldtog ingesamel word sal deur die liefdadigheidsorganisasie 'Operation Smile' aangewend word om die kinders se gesplete-lip- en verhemelte-operasies te finansier.
Kinders wat met hierdie tipe gebreke gebore word ondervind gewoonlik asemhalings- gehoor- eet- en praat- probleme. In sommige gemeenskappe word hierdie kinders dikwels verwerp, en kan die ouers dit nie bekostig om vir die operasies te betaal wat hulle nodig het om produktiewe lewens te lei nie. Die koste per kind beloop R5 600 en die operasie duur ongeveer 45 minute
Shannon Smit, die nasionale ambassadeur vir Operations Smile, het gesê dat dié fietsryers hoop om vanjaar R150 000 in te samel wat glimlaggies op sowat 25 kinders se gesigte sal plaas.
Die bedrag wat die Miles for Smiles-fietsrygroep tot dusver ingesamel het is R30 693.
"Ons het Donderdag 28 Februarie, in Port Elizabeth met die 1 000 km bewusmakingsveldtog weggespring, en eindig Sondag 10 Maart by die Cape Town Cycle Tour in Kaapstad."
Voornemende donateurs kan 021 447 3608 skakel of die webwerf www.givengain.com besoek. Donasies kan ook direk aan die fietsryers gegee word as die publiek of motoriste hulle op die pad sien.
Die Miles for Smiles-fietsryspan wat tans donasies vir kinders met gesigsgebreke insamel. Foto: Wyndham Ewerts
Lees 'n vorige artikel: Donasies vir kinders met gesigsgebreke
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'