OUDTSHOORN NUUS - 'n Groep fietsryers, 'Miles for Smiles', het Maandagoggend in Oudtshoorn aangekom as deel van hul 10-dag bewusmakingsveldtog om fondse vir kinders met gesigsgebreke in te samel.
Alle fondse wat met hierdie veldtog ingesamel word sal deur die liefdadigheidsorganisasie 'Operation Smile' aangewend word om die kinders se gesplete-lip- en verhemelte-operasies te finansier.
Kinders wat met hierdie tipe gebreke gebore word, ondervind gewoonlik asemhaling-, gehoor-, eet- en spraakprobleme. In sommige gemeenskappe word hierdie kinders dikwels verwerp, en kan die ouers dit nie bekostig om vir die operasies te betaaal wat hulle nodig het om produktiewe lewens te lei nie.
Die koste per operasie per kind beloop R5 600 en duur ongeveer 45 minute.
Shannon Smit, die nasionale ambassadeur vir 'Operation Smile', het gesê dat dié fietsryers hoop om vanjaar R150 000 in te samel wat glimlaggies op sowat 25 kinders se gesigte sal plaas. Die bedrag wat die 'Miles for Smiles' -fietsrygroep tot dusver ingesamel het is R30 693.
"Ons het Donderdag in Port Elizabeth met die 1 000 km fietsrybewusmakingsveltog weggespring en eindig Sondag by die Cape Town Cycle Tour in Kaapstad."
Die fietsryers se volledige roete is as volg:
- Dag 0: The Herald Cycle Tour (105 km)
- Dag 1: PE - Humansdorp (105 km)
- Dag 2: Joubertina (89 km)
- Dag 3: Uniondale (76km)
- Dag 4: De Rust (82km)
- Dag 5: Calitzdorp (65km) (vandag)
- Dag 6: Barrydale (115km)
- Dag 7: Robertson (115)
- Dag 8: Paarl (110 km)
- Dag 9: Rusdag in Kaapstad
- Dag 10: Cape Town Cycle Tour
Voornemende donateurs kan 021 447 3608 skakel of die webwerf www.givengain.com besoek. Donasies kan ook direk aan die fietsryers gegee word as die publiek of motoriste hulle op die pad sien pendel.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'